Gladys Stephanus en Sementhia Abia is die twee gemeenskapswerkers van die Masincedane-gemeenskapsdienste wat ouers en hul kinders wil help en bystaan om hul geboortesertifikate te ontvang.


Twee gemeenskapswerkers van Masincedane-gemeenskapsdienste het ’n nood in verskeie gemeenskappe in die Helderberg gesien waar talle ouers nie geboortesertifikate het nie en dus nie hul kinders kan registreer nie.

“Ons het agtergekom baie pa’s en ma’s het self nie geboortesertifikate nie en kan dan nie vir hul kinders geboortesertifikate uitneem nie,” het Sementhia Abia, ’n inwoner van Erijaville, wat vir Masincedane werk, gesê.

Abia en ’n kollega, Gladys Stephanus, ’n inwoner van Broadlandspark, werk elke dag in gemeenskappe waar hulle agtergekom het in baie huishoudings het niemand ’n geboortesertifikaat nie.

“Die probleem is hier is geen departemente wat help met wat ons late birth registration noem nie. Die naaste plek waar die ouers hul geboortesertifikaat kan verkry as hulle dit nog nie gedoen het nie, is Grabouw of Khayelitsha. Hierdie mense het nie geld of tyd om soontoe te reis nie.”

Die twee het toe self met ’n plan vorendag gekom en Dinsdag 10 Mei het hulle 17 mense in ’n taxi gelaai en hulle na Grabouw geneem om hulle geboortesertifikate te gaan uitsorteer.

“Dit gaan ’n baie lang proses wees, maar ons kon darem die bal vir dié 17 mense aan die rol kry,” het Abia gesê.

Sy het self destyds mense met haar eie voertuig ook aangery, maar deesdae is die nood so hoog dat hulle ’n taxi moet huur en betaal om al die mense te vervoer.

“Vriendinne van ons het die eerste geleentheid per taxi geborg en dit het baie vir ons beteken. Ons kan nie elke keer dieselfde mense vra om te help nie, en dit is waarom ons nou uitreik na die gemeenskap om met skenkings te help.”

  • Indien jy, of iemand wat jy ken, ’n skenking wil maak sodat dié gemeenskapswerkers hul projek, wat hulle in hul eie tyd doen, kan deurvoer, kontak Abia by 079 229 4757.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article