Verskeie sektore in die Strand-polisiëringsgebied het die afgelope ruk gebuk gegaan onder eiendoms-verwante misdaad asook rooftogte by sakepersele.
Een van die gebiede wat die hardste deur sake- en straatrooftogte getref is, is sektor 2 in Strand.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig sake- en straatrooftogte is aan die toeneem in sektor 2, wat Strand se nywerheidsgebied, De Kockstraat en Boundaryweg insluit.
“In die meeste gevalle word voetgangers geteiken wanneer hulle van die werk af kom asook spaza-winkels in die sektor wat beroof word,” voeg Beukes by.
Sektor 3, wat hoofsaaklik uit die Strand-sakekern asook Kusweg bestaan, het ’n styging in eiendomsverwante misdade ervaar.
“In dié gebied het ons opgelet dat eiendomsverwante misdade gestyg het, en dis juis hoekom die veiligheidstrukture, wat die onderskeie buurtwagte insluit, op weeksdae en oor naweke, in die sektor sigbaar sal wees,” sê Niklaas Thysen, woordvoerder van die Strand-gemeenskapspolisiërings-forum.
Volgens Beukes word mense in sektor 1, wat van Broadway-boulevard tot Onverwachtstraat strek, van hul selfone beroof, en dit is een van die gebiede in Strand met die meeste selfoonverwante diefstal-sake.
Philip Versfeld van die Strand-buurtwag is van mening enige vorm van misdaad moet aandag ontvang, maar volgens hom is misdade soos huisrooftogte, diefstalle van en uit motorvoertuie asook rooftogte by sakepersele “onder beheer”, en enkele voorvalle van elk het die laaste paar maande in Strand voorgekom.
“Ons het verlede jaar in Julie 19 gevalle van voertuie wat gesteel is, gehad. In Julie vanjaar is slegs drie karre gesteel. Elke liewe diefstal of inbraak is iets wat nie moet gebeur nie, maar misdaad in Strand is nie op ’n kommerwekkende vlak nie,” sê Versfeld.
Hy maan egter inwoners om steeds veiligheidsbewus en paraat te wees.
Dit is ’n sentiment wat Thysen deel en hy moedig die publiek aan om by hul plaaslike buurtwagte aan te sluit en seker te maak hul strate is bedags en snags veilig.
“As die gemeenskap hande vat en saam met die owerhede werk, kan ons as ’n geheel ’n verskil maak.”


