Shanney Jantjies op die toneel waar ’n verwoestende brand haar gesin se tweede tuiste verwoes het.Foto: Jamey Gordon


’n Gordonsbaaise gesin wat binne die bestek van slegs weke die slagoffers van twee verwoestende brande geword het, het in die mees onlangse voorval die afgelope naweek alles verloor.

Shanney Jantjies en haar gesin is – nadat hulle weens ’n brand verlede maand hul tuiste kwyt is en net begin het om hul lewe te herbou – weer deur die noodlot getref. Hul blyplek in Temperance Town is Saterdag (10 September) die tweede keer tot op die grond afgebrand.

Met ’n besoek aan die toneel in Collinsstraat Maandag (12 September) was dit duidelik dat die brand algehele verwoesting gesaai het. Die dop van die verkoolde hoofhuis en die oorblyfsels van Jantjies se wendyhuis voor op die erf was die stille getuienis van die ramp.

Die 29-jarige het met ondersteuning van familie vertel die brand het Saterdagaand kort ná sesuur uitgebreek. Sy het gestaan en kos kook toe die brand by haar 58-jarige ma se huis op die perseel ontstaan het. Die brand het haar blyplek, wat sy met haar 32-jarige kêrel en twee kinders (nege en twee jaar) deel, en al hul besittings, wat hulle ná die vorige voorval kon red, vernietig. “My oorlede suster se gestremde seun het van buite geskree: ‘brand!’ Ek het uitgehardloop en gesien hoe die vlamme my ma se huis verswelg,” het Jantjies gesê.

Die voorval het Jantjies en haar gesin, asook haar ma en sewe ander gesinslede, onder wie die 20-jarige gestremde man en drie kinders (10, nege en een jaar oud), haweloos gelaat.

Volgens Jantjies het werknemers van die nabygeleë private veiligheidsmaatskappy Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) die brandweerdienste ontbied.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer- en reddingsdienste, het bevestig brandbestryders het om 18:20 op die noodoproep gereageer.

Brandweerspanne van Sir Lowry’s Pass en Strand is met twee brandweerwaens en ’n watertenker ontbied. “Die formele woning in Collinsstraat en die informele struktuur het erge skade opgedoen terwyl nog ’n informele struktuur gedeeltelik beskadig is. Altesaam 11 mense is haweloos. ’n Aangrensende eiendom het geringe skade opgedoen as gevolg van die hitte. Die brand is net ná 19:10 geblus en geen beserings is aangemeld nie.”

Volgens die Gordonsbaai-polisie is die oorsaak van die brand nog nie amptelik bepaal nie, maar ’n moontlike kortsluiting word vermoed.

Die voorval volg byna presies ’n maand nadat ’n brand die gesin se tuiste by Juniperstraat 24 geëis het. Die brand het Saterdag 13 Augustus omstreeks 20:25 uitgebreek en vyf informele strukture is vernietig. ’n Huis op die perseel het ook skade opgedoen. Die Jantjies-familie is onder die 25 mense wat haweloos gelaat is.

“Dis tragies, maar ek is bly almal is ongedeerd,” het Jantjies ná die tweede voorval gesê. Sy het haar dankbaarheid uitgespreek aan familie wat son­der huiwering hul tuistes vir al die brandslagoffers oopgestel het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article