Die weduwee van die vermoorde sakeman van Strand, Darryl van Reenen, en nog drie verdagtes, wat verlede week in verband met ’n moordsaak van 2014 in hegtenis geneem is, het Maandag (17 Oktober) in die Strand-landdroshof verskyn.

Die saak is tot môre (Donderdag 20 Oktober) vir formele borgtogaansoeke uitgestel.

Die hofverskyning volg nadat Mandy van Reenen, Janeen Cupido, Jason de Bruin en Ivan James agt jaar nadat die lyk van ’n broodafleweraar langs die kuspad naby Gordonsbaai gevind is, in verband met die voorval vasgetrek is. Hulle het almal saam op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg en ontvoering in die hof verskyn.

DistriksPos het voorheen berig dat ’n lyk van ’n man met verskeie steekwonde Maandag 25 Augustus 2014 om 08:45 by ’n uitkykpunt op die R44 ontdek is. Dit is later deur die media vasgestel dat dit die lyk was van Edmond Chinzete, wat broodaflewering in Nomzamo en Lwandle gedoen het.

Volgens ’n persverklaring van die provinsiale polisie het deeglike ondersoekwerk deur speurders van die teenbende-eenheid tot die inhegtenisneming van die vier verdagtes, tussen die ouderdomme 27 en 46 jaar, gelei.

Hulle is verlede Donderdagaand (13 Oktober) glo by hul onderskeie Helderberg-wonings op aanklagte van moord aangekeer.

’n Vyfde verdagte word ook met die saak verbind, maar is blykbaar vroeër oorlede.

Mandy, wat glo uit was op borgtog in ’n saak van ontvoering en brandstigting, is by haar woonstel in Somerset-Wes in hegtenis geneem.

Daar is berig dat sy en nog ’n verdagte is in Maart verlede jaar in verband met die ontvoering van ’n tweejarige seun in 2015 in hegtenis geneem. Sy is later ook van brandstigting aangekla nadat sy glo die motor van haar vermoorde man se swaer in dieselfde jaar as die ontvoering by sy huis in Naomi­straat in Strand aan die brand gesteek het.

Darryl, die eienaar van Darman Suppliers, is Dinsdag 27 Augustus 2019 in ’n gewapende rooftog by sy onderneming doodgeskiet (“Skote klap in Strand: Sakeman doodgeskiet, DistriksPos, 29 Augustus 2019).

Hy het ’n verspreidingsonderneming, wat daagliks noodsaaklike produkte soos brood, melk, suiwelprodukte en verskeie publikasies versprei, saam met Mandy bestuur.

Niemand is nog in verband met sy moord in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article