Die Warriors wil vanjaar weer die Hot Summer of Touch-trofee lig, maar om dit te kan doen het hulle finansiële ondersteuning nodig.

Credit: SYSTEM

’n Raakrugby-span van Strand voel die ekonomie se greep en in ’n poging om meer borge te betrek, reik hulle uit na Jan Alleman.

Die Warriors-raakrugbyspan wat in 2005 gestig is het vele hoogtepunte bereik soos om drie keer die Hot Summer of Touch Pro Series-raakrugby toernooi te wen, maar trek nou swaar.

Craig Wood, die bestuurder, afrigter en mentor van die span, bieg dat sedert hy in 2011 aangesluit het by die span, hulle baie dinge deurgemaak het. Maar, die 12 manne wat nou in die span is, is op die regte pad want hulle dra alle eer op aan God.

“Ons kom uit minderbevoorregte gemeenskappe en die spanlede is nie net afkomstig uit die Helderberg nie, maar kom ook uit gebiede soos Brackenfell,” sê Wood.

Die span met spelers tussen die ouderdom van 15 en 29, het oor die jare al ’n Springbok en ’n WP-speler opgelewer.

“Die Warriors is baie suksesvol op die veld, maar dis hulle bereidwilligheid om te leer wat so belangrik is.”

Die span se grootste missie is om vir jeug en jongmanne die platform te skep waar hulle op ’n veilige manier raakrugby kan speel.

“Die dissipline is baie belangrik want dit word nie net geïmplimenteer in die spelers se sport nie, maar ook in hul lewens,” brei Wood uit.

Dié hoogs suksesvolle span se planne vir die toekoms hang aan ’n dun draadjie, want die grootste uitdaging is finansies om aan toernooie deel te neem.

“Vanjaar se Hot Summer of Touch-toernooi vind plaas van Sondag 3 tot Donderdag 28 Desember en gedurende die tyd gaan ons op verskeie strande insluitend Kleinmond, Strand en Mosselbaai speel. Die uitdaging is om die spelers daar te kry. Ons wil uitreik na ondernemings wat bereid sal wees om ons te borg en ook na ondernemings of kolleges wat beurse of learnerships het vir ons spelers, sodat hulle ook ’n blink toekoms het om na uit te sien.”

Rig navrae aan Wood by 084 670 5152.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article