Die Suiderstrand-biblioteek, wat eens ’n baken van hoop was, is nie meer nie. Die erf wat nou leeg staan, is “vol leë beloftes” en plaaslike inwoners eis antwoorde.
Die biblioteek is Februarie 2021 in ’n verwoestende brand in puin gelê toe dit tot op die grond afgebrand het. Net die mure het bly staan.
Afbreekwerk aan die Suiderstrand-biblioteek se gebou het Vrydag 7 Oktober begin om plek te maak vir ’n nuwe biblioteek wat weer as ’n baken van hoop sal dien.
’n Paar dae daarna was inwoners verheug om te sien dit wat van die biblioteek oorgebly het, is heeltemal plat. Die 42-jarige biblioteek is weens brandstigting deur vlamme verswelg (“Ou baken van hoop nou afgebreek,” DistriksPos 12 Oktober 2022).
Cheslynn Benn, ’n gemeenskapsaktivis, het onlangs na Patricia van der Ross, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, uitgereik om die Stad Kaapstad te bedank vir hul vordering tot dusver met die biblioteek.
“Die beloofde nuwe biblioteek gaan bitterlik baie beteken vir ons gemeenskappe, maar tot dusver het ons niks weer van die Stad Kaapstad gehoor nie. Ek hoop nie die diplomatiese manier waarop ons as inwoners met die Stad Kaapstad kommunikeer het, het veroorsaak dat hulle dink ons is ontevrede of moeilik nie, maar ons wil antwoorde hê. Kommunikasie rakende die bou van ’n nuwe biblioteek is tjoepstil en ons vrae word blatant geïgnoreer. Om die publiek so te ignoreer, is baie onprofessioneel van die Stad – en veral van Van der Ross,” sê Benn.
Van der Ross het in Oktober aan die DistriksPos & Helderberg Gazette bevestig die Stad is besig met ’n konsepplan vir ’n nuwe biblioteek. “Ek kan bevestig dat die nuwe biblioteek in die 2023-’24-boekjaar opgerig sal word en heel moontlik in 2025 voltooi sal wees,” was Van der Ross se woorde.
Volgens die raadslid het die Stad juis ’n maatskappy, Bouwcor, aangestel om die afgebrande biblioteek af te breek om die publiek se veiligheid te verseker aangesien die afgebrande gebou gereeld vir allerhande “verkeerde” dinge gebruik is.
“Die Stad is besig om verskeie opsies te oorweeg asook die nuwe gebou se potensiële ontwerp, wat deel sal wees van ’n gedeelde fasiliteit wat verskeie dienste sal aanbied. Ons sal eers finansiering moet verkry en op die oomblik bestaan geen bepaalde tydlyn nie,” sê Van der Ross.
Volgens haar gaan die nuwe biblioteek op dieselfde terrein gebou word – mits die vereiste prosesse suksesvol is.
“Die Stad wil inwoners van Strand aanmoedig om in die tussentyd die biblioteke in Gordonsbaai, Strand asook die Hector Peterson-biblioteek in Lwandle te besoek,” voeg Van der Ross by.



