Die Macassar-polisie vra die publiek se hulp om ‘n vermiste jongman op te spoor.

Jason Prins (29) word sedert Maandag 2 Februarie vermis. Volgens ‘n vermiste-persoon- kennisgewing is hy laas by Foodkor Stores gesien.

Prins het bruin oë, swart afro-hare, ‘n baard en ‘n snor en ‘n skraal liggaamsbou. Hy is laas in ‘n swart denim, wit T-hemp, grys pet en swart pantoffels gesien.

Sy ma, Natasha Beukes (46), het haar diepe bekommernis uitgespreek. “Ek voel niks goed nie. Al waaraan ek dink, is my kind en waar hy hom bevind,” het sy gesê.

“Soveel stories doen die ronde en ons raak al meer bekommerd. Ons wil hom net veilig tuis hê.”

Volgens Beukes het hulle Prins nie weer gesien nadat hy Sondag saam met hulle geeët en Maandagoggend vroeg by hul voordeur geklop het nie.

Sy was nie tuis toe hy daar aangekom het nie en haar drie kinders wat wel tuis was, het gesê hy was daar, maar dat hulle uit vrees nie vir hom oopgemaak het nie. Prins het oorkant Beukes in die L-woonstelblok gewoon.

Sy het gesê haar seun is nie getroud of het kinders nie, maar wel ‘n geliefde hond – ‘n geliefde troeteldier wat altyd saam met hom was. Sy het erken dat Prins met dwelmmisbruik geworstel het, ten spyte van die gesin se voortdurende pogings om hom te ondersteun.

Nadat hy teen daardie Dinsdag nie weer by die familie opgedaag het nie en sy by almal navraag gedoen het, is sy die Woensdag na die polisie om haar seun as vermis aan te meld.

Intussen is Steven Pontac, wat op Sondag 15 Februarie laas gesien is toe hy sy tuiste in Macassar Village verlaat het, Maandag (23 Februarie) opgespoor.

Steven Pontac

Die publiek is gevra om uit te kyk vir die ongeveer 1,8 m lange Pontac, met ‘n skraal liggaamsbou, bruin oë en kort, swart hare. Hy het ‘n roomkleurige sweetpakbroek, hoodie en swart pantoffels aangehad toe hy laas gesien is.

Toe DistriksPos & Helderberg Gazette met sy pa, Richard, kontak gemaak het, het hy die goeie nuus meegedeel dat sy seun veilig gevind is. “Ek kan nie nou praat nie, ek is baie emosioneel,” het hy gesê en die koerant vir die ondersteuning bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article