’n Bestuurder het sy lewe verlede week in Parkwood verloor nadat valse gerugte die ronde begin doen het dat hy kinders ontvoer het. Die gemeenskap het toe opgeruk en eie reg gebruik.

Die “onskuldige” slagoffer is deur ontstoke gemeenskapslede noodlottig aangeval en sy motor uitgebrand.

In die Helderberg was inwoners ook in rep en roer oor gerugte van beweerde ontvoerings en pogings. In Strand is jong meisies glo verlede Maandag (30 Mei) en Woensdag (1 Junie) in Broadlandspark geteiken – dit terwyl ’n jong vrou na bewering uit die kloue van drie vermeende ontvoerders in ’n motorvoertuig ontsnap het.

In die eerste Strand-voorval, (Maandag 30 Mei) is twee meisies glo in Broadlandspark ontvoer. Die voorval is gevolg deur nog ’n beweerde ontvoering van ’n meisie in dieselfde gemeenskap die Woensdag (1 Junie). Dié keer het inwoners na bewering ’n nommerplaat van die motor bekom.

Die Strand-polisie het by navraag egter albei voorvalle as fopnuus verklaar nadat in die 24 uur sedert die voorvalle verloop het geen vermistes by die polisiekantoor aangemeld is nie.

Sosialemediaplatforms was aan die gons nadat besonderhede van ’n vermeende ontvoeringspoging in Macassar op Facebook gedeel is. Luidens dié bewerings is ’n jong vrou amper deur drie mense in ’n blou Toyota Tazz in Rubensweg ontvoer. Sy het glo aan haar ontvoerders ontkom deur weg te hardloop en na haar woonplek te vlug.

Sersant Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, het bevestig hulle is ook ingelig oor die gepoogde ontvoering, maar dat in hierdie geval ook geen klagte of vermiste aangemeld is nie.

Apostel Manfred Jumat, gemeenskapsleier en voorsitter van die Broadlandspark-buurtwag, is van mening dat almal die afgelope week op sosiale media oorval is met gerugte van beweerde ontvoerings.

Kolonel Khunjulwa Khanyile, die Strand-polisiebevelvoerder, sê die fopnuus moet gestaak word. “Ons het geen saak op daardie dae geopen van enige vermiste of ontvoerde kinders nie.”

Sy sê dit is wel belangrik om te onthou dat geen “wagperiode” vir die aanmelding van vermiste mense geld nie.

“Die fopnuus maak dinge baie gevaarlik, want mense gebruik eie reg. As ’n grootmens of ’n kind wel vermis word, moet dit dadelik by die polisie aangemeld word,” het sy gesê.

Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het ook sy kommer oor die gerugte wat die ronde gedoen het, uitgespreek.

Niklaas Thysen, ’n GPF-woordvoerder, sê nuus uit ander gebiede oor ontvoerings versprei nou na Strand, maar geen sulke sake is hier aangemeld nie.

“Die gemeenskap word aangemoedig om hulself van enige fopnuus te distansieer. Bevestig dit eers by die polisie en maak seker dis die waarheid; maak seker so ’n saak is aangemeld en dat die polisie wel ’n vermiste of ontvoerde soek. Moenie leuens versprei nie,” het Thysen gewaarsku.

Jumat het bygevoeg: “Dit het baie opskudding veroorsaak en baie mense het aan die ‘hype’ wat daardeur veroorsaak is, deelgeneem.

“Gemeenskappe het baie vinnig op enige potensiële voorval gereageer sonder om die oorsprong van die gerugte vas te stel. Dit is goed as gemeenskappe op hul hoede is en beskermend optree, maar ons moet dit feitelik kan bevestig voordat ons by enige optrede betrokke kan raak.”

Hy het mense aangemoedig om nie valse inligting en gerugte te versprei nie.

“Kom ons weerhou ons daarvan om geweld aan te wakker en mense vir onwettige optredes op te stook. Ek doen ’n beroep op ons gemeenskappe om nie eie reg te gebruik nie, maar toe te laat dat die reg sy eie gang gaan.

“Kom ons staan saam teen elke euwel wat ons gemeenskap bedreig, maar binne die raamwerk van die wet.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article