Brandbestryders op die smeulende toneel waar die verwoestende brand in Ringlaan, Macassar, uitgebreek het.


’n Gesin van vyf van Macassar is haweloos nadat hul tuiste in ’n verwoestende brand in puin gelê is.

Die brand het Dinsdagmiddag (18 Januarie) in die Riverside-gemeenskap uitgebreek en is die tweede van sy soort wat die familie in die bestek van ’n paar jaar hul woonplek gekos het.

Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder, het die Stad Kaapstad se brandweerdienste om 13:34 op ’n noodoproep oor ’n informele struktuur wat in Ringlaan brand, gereageer.

“Brandbestryders van die Macassar-brandweerstasie was eerste op die toneel waar ’n enkele struktuur heeltemal deur vlamme verswelg is. Vyf mense is ontruim en geen beserings is aangemeld nie. Die brand is om 14:18 geblus. Die oorsaak is onbekend,” het Carelse gesê.

Janine Jacobs sê hulle was nie tuis toe die brand by hul wendyhuis uitgebreek het nie.

Die tweevertrekwoning is die tuiste van dié 37-jarige, haar eggenoot (39) en hul drie kinders, 18, 15 en 13, en almal is weens die voorval haweloos gelaat.

“Iemand het my gebel terwyl ek by die werk was om te sê van die brand wat my plek binne minute verswelg het,” het Jacobs gesê. “Ek is hartseer. Ons staar ’n harde werklikheid in die gesig. Ons het geen keuse nie as om die stukkies te probeer optel en weer te begin.”

Jacobs doen ’n beroep op enigiemand wat finansiële steun aan hulle kan bied om haar by 060 604 0509 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article