Vyf mense, onder wie twee jong kinders en ’n tiener wat in ’n vermeende bendeverwante aanval in Strand ernstig gewond is en vir hulp na die plaaslike brandweerstasie gejaag is, sterk aan ná die voorval.
Nog een, ’n swanger vrou, het mediese behandeling ontvang vir beserings opgedoen in die skietaanval wat Sondagaand (6 November) in die berugte Broadlandspark afgespeel het.
Luidens ’n polisieverslag het die voorval omstreeks 19:20 in Wildegans-weg plaasgevind toe gewapende verdagtes op ’n huisgesin in hul tuiste toegesak het.
Volgens die huiseienaar, Raymond Williams, is sy gesinslede en naasbestaandes nog erg getraumatiseer.
Die 50-jarige trotse Rastafariër herroep dat ’n groep van 34 gewapende bendelede toegeslaan het op hom, sy vrou (56), hul twee seuns, 32 en 25, sy skoondogter (21), sy skoonsuster se tienerseun (18), sy swanger kleindogter (19) en ’n vriendin (30) wat ten tyde van die voorval na drie baba’s (een maand, twee en vyf jaar oud) in die huis omgesien het.
Dit terwyl twee kinders, die bure se 10-jarige seuntjie asook een van dieselfde ouderdom wat dikwels ’n saamrygeleentheid saam met Williams kry, by hulle gekuier het.
“Toe die koeëls op ons reën, het ons uit vrees vir ons lewe vir veiligheid uit die huis probeer vlug,” vertel Williams wat glo hulle word geteiken omdat hy en sy gesinslede betrokke is by belangrike hofsake wat binnekort weer in die hof draai. Hy het bygevoeg dat die voorval ook voorafgegaan is deur ’n messteekvoorval waarin nog ’n familielid geteiken is. Die minderjarige is by ’n winkel in sy bobene gesteek en van sy geld beroof.
Williams sê onverpoosde pogings om sy geliefdes tydens die onverwagse aanval te probeer beskerm, was tevergeefs. In die voorval is sy ouste seun in die hand gewond, sy swanger kleindogter met ’n voorwerp aangerand en sy jongste seun in die skouer geskiet.
Dié slagoffers het ná die voorval mediese behandeling ontvang en is Maandag (7 November) ontslaan. Albei tienjariges asook Williams se skoonsuster se tienerseun is in die skietaanval gewond en weens hul kritieke toestand deur Williams en ’n buurman met twee voertuie na die Strand-brandweerstasie gehaas.
Met DistriksPos & Helderberg Gazette se aankoms by die brandweerstasie in George-straat was nooddienspersoneel insluitend GB Med Rescue en ER24, en owerhede, onder meer die plaaslike polisie wat deur Strand-buurtwaglede en raadslid Carl Punt ondersteun is, op die toneel.
Volgens ’n woordvoerder, Ross Campbell, is ER24-paramedici om 19:10 na die brandweerstasie ontbied waar die seuns afgelaai is. Campbell sê een was kritiek gewond weens ’n skoot in die buik en met gevorderde lewensondersteuning behandel voordat hy na die hospitaal vervoer is.
Nog ’n seun is vir ’n ernstige skietwond in die buik behandel en deur ’n private ambulansdiens na die hospitaal vervoer. ’n Derde seun, wat ook ’n baie ernstige skietwond opgedoen het, is na ’n private hospitaal vervoer.
Volgens Williams is die laasgenoemde, die 18-jarige, ontslaan en sterk hy van ’n skietwond aan die been aan terwyl die ander twee jongelinge steeds in die hospitaal behandeling ontvang.
Die Strand-polisie het by navraag die voorval bevestig en gesê vier sake van poging tot moord, gewapende roof en opsetlike beskadiging van eiendom word ondersoek. “Drie verdagtes van onderskeidelik 55, 20 en 52 jaar is in verband met die bendeverwante skietvoorval waarin kontant en twee selfone ook gebuit is, in hegtenis geneem,” sê ’n polisiewoordvoerder.
Mense met inligting word versoek om luitenant-kolonel Franklin Plaatjies by 082 469 3359 te bel.
. In ’n afsonderlike skietvoorval Saterdagaand (5 November) is vyf mense in Broadlandspark gewond en gehospitaliseer. Volgens die polisie is hulle omstreeks 22:30 na die toneel ontbied waar vyf kuiergaste van Kraaifontein wat ’n verjaardagpartytjie by ’n woonadres in Petuniastraat bygewoon het, die slagoffers van ’n skietvoorval geword het. Dertien patroondoppies is op die toneel gevind. Die motief is steeds onbekend.
Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het sy meegevoel en simpatie met die slagoffers uitgespreek.
Die GPF het bygesê dat misdaadvoorkomingsprogramme vir die feestyd beplan word.



