Met die amptelike heropening van skole vandag (Woensdag 15 Januarie) is die gemeenskap van Weltevreden in Strand diep bekommerd oor die gesondheid van leerders by Dr. G.J. Joubert Primêre Skool nadat ’n pyp agter die skool gebars het.
Die lek, wat in ’n deurloop tussen Naomi- en Abattoirstraat geleë is, het stagnante poele water veroorsaak wat met alge besmet is en ’n sterk, vieslike reuk soos dié van vis afgee. Die situasie word verder vererger deur stortings wat die omgewing besoedel.
Theodore America (58), ’n inwoner van Mydrechtstraat, het sy kommer oor die gesondheidsgevare wat sy kinders in die gesig staar uitgespreek.
“Ek het twee kinders wat die skool bywoon en die deurloop gebruik. Wat gaan gebeur as hulle siek word?” het hy gevra.
Tauhira Fanie, die hoof van Dr. G.J. Joubert Primêr, het verduidelik dat leerders die deurloop gebruik om by die skool se hekke in Abattoirstraat te kom, aangesien die hekke in Naomistraat meestal om veiligheidsredes gesluit is.
“Die lek is reg voor ’n graad R-klas se deur, en die graad R-leerders speel langs die heining waar die vuil water opdam, omdat hul speelruimte so beperk is,” het sy gesê.
Fanie het verder haar frustrasie uitgespreek: “Ek is geïrriteerd en kwaad dat mense kinders se lewe só in gevaar kan stel en niks daaraan doen nie.” Volgens haar is die lek reeds deur die skool se opsigter by die Stad Kaapstad aangemeld.
Die deurloop word egter nie net deur leerders gebruik nie – die hele gemeenskap gebruik hierdie pad as ’n kortpad tussen Naomi- en Abattoirstraat.
“Ek het van die kliniek af gekom en moes deur die vuil water en stink reuk loop,” het Claudette Carlese (44), ’n inwoner, gesê.
DistriksPos & Helderberg Gazette het die Stad Kaapstad vir kommentaar genader, maar geen reaksie is teen die tyd van publikasie ontvang nie. Die koerant sal dit opvolg en enige reaksie van die Stad asook verdere inligting publiseer.
Intussen het die skool besluit om die hek in Naomistraat oop te los sodat leerders nie die deurloop hoef te gebruik om by die skool te kom terwyl die probleem nog nie opgelos is nie.




