Die Vroue in Aksie-beweging het Sondag 16 Oktober op die Gustrouw-sportterrein met inwoners en families, wat direk deur die geweld in die omgewing geraak is, vergader.

Volgens stigter Zorah Motasi het die Vroue in Aksie tesame met verskeie rolspelers met gemeenskapslede vergader om maniere te bespreek om bendegeweld en misdaad in die Strand die hoof te bied.

“Sedert Vroue in Aksie se ontstaan sowat vier jaar gelede, het ons gesien hoe ons jongmanne sterf as gevolg van bendege­weld in die omgewing. Ons het nou al baie jongmanne so verloor, en die afgelope jaar is meer as honderd mans (seuns) dood. Wat ons opgelet het, is die geweld raak net erger,” sê Motasi.

Sy vertel ook dat die howe die jongmans (beskuldigdes) vrylaat omdat die polisie nie genoeg bewyse het nie, en mense is nie bereid om teen die beskuldigdes te getuig nie.

“Vroue in Aksie is nie deel van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum nie en ons wil ook die polisie van plaaslike vlak tot provinsiale vlak verantwoordbaar hou. Dit is waarom ons besluit het om ons eie gemeenskapsforum, wat as tussenganger vir die polisie en die gemeenskap sal optree, te begin,” voeg sy by.

Nie net verskeie rolspelers en kerkleiers het die vergadering bygewoon nie, maar ook slagoffers en familielede van slagoffers wat hul lewe verloor het, was by die vergadering.

Ashford Gouws, die pa van Byron Gouws, wat Sondag 31 Julie wreed in Broadlandspark vermoor is, en Johanna Fritz, die ma van Brancoulin Fritz, wat Saterdag 18 Junie by ’n partytjie doodgesteek is, het albei ook ’n kans benut om te praat oor hoe misdaad hul lewens geraak het.

Cheslynn Benn, die voorsitter van die Cape Coloured Congress en ’n gemeenskapsaktivis, sê jeugdiges in die gebied kry nie indiensneming- en ontwikkelingsgeleenthede nie.

“Ons gemeenskap is vergete in die oë van die mense wat die besluite neem. As dit nie gaan verander nie, gaan ons kinders steeds die begraafplase en tronke volmaak,” vertel hy.

Benn sê gemeenskappe soos Gustrouw en Broadlandspark is ’n broeikas vir bendelede en dwelmmisbruikers.

“Soveel dinge hou ons mense waar hulle is. Ons moet vrykom van dié dinge wat ons vashou, sodat ons kan begin groei.”

Die stand van die polisie in Strand en sommige van die polisiebeamptes se verhoudings met bendelede is ook op die vergadering bespreek.

“Ons vermoed van Strand se polisiebeamptes – nie almal nie, want baie van hulle doen goeie werk – werk saam met dwelmbase in die omgewing,” sê Motasi.

Van die moorde in Strand, waarvan die sake nooit eens die hof gehaal het nie, is ook op die vergadering bespreek.

Die “Community Safety Forum” se idee is bespreek, maar volgens Motasi sal meer mense by die volgende vergadering betrokke raak en ’n tussentydse struktuur vir die gemeenskapsforum, wat tans nog naamloos is, op die been gebring word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article