Skare buite Strand-landdroshof op 7 April wat geregtigheid eis vir beweerde negejarige slagoffer.
Skare buite Strand-landdroshof op 7 April wat geregtigheid eis vir beweerde negejarige slagoffer. Credit: Barend Williams

‘n Groot groep vroue het op Dinsdag 22 April buite die Strand-landdroshof saamgedrom om petisies teen die borgtog vir twee van die beweerde verkragters van ‘n negejarige meisie te oorhandig.

Distrikspos & Helderberg Gazette het voorheen oor die inhegtenisneming van die twee beskuldigdes, onderskeidelik 19 en 17 jaar oud, berig (“Broers vas vir gruwelike dade”, 16 April).

Die sibbe is op Maandag 7 April op aanklagte van verkragting in Gustrouw in hegtenis geneem nadat daar beweer is dat hulle die minderjarige tussen Desember verlede jaar en Saterdag 5 April seksueel aangerand het. Die sibbe het op Dinsdag 9 April vir die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn, waarna die saak tot (die afgelope) Dinsdag uitgestel is.

“Ons is gatvol dat mans wat nie hul seksuele begeertes kan beheer nie, ons kinders slagoffers maak,” het Zorah Motasi, die stigter van die Vroue in Aksie-beweging, toe in die lig van die voorval aan die publikasie gesê.

Motasi en mede-gemeenskapsleiers Jacky Kordom, Lisa Visser, Rosa Galant, Drusilla Beukes, Tracy Williams, Gavin James, Donna Gertze, Lizel Myburgh, Ronel Paulse en Felicity Ndzule het oor die Paasnaweek kragte saamgespan om te help verseker dat die hof die gemeenskap se stemme hoor voor die verdagtes se volgende verskyning.

Hulle het begin deur die “Leaders Network” te stig, met die eerste doelwit om in elke gebied in die Strand van deur tot deur te gaan en handtekeninge te werf vir petisies wat eis dat die broers nie borgtog moet kry nie.

Volgens die lede van die nuutgestigte netwerk is hulle goed deur inwoners ontvang en het hulle meer as 2 000 handtekeninge vir die een petisie ontvang en net minder as 2 000 vir die ander.

“Ons is trots op die Strand-gemeenskap dat hulle ter ondersteuning van die negejarige slagoffer en haar gesin verenig het,” het Motasi gesê.

Met die hofverskyning het die Leaders Network-lede, die slagoffer se familie asook baie ander vroue uit die gemeenskap die petisies aan die Strand-landdroshof se senior staatsaanklaer, Marlene van Heerden, oorhandig.

Hulle sê hul boodskap is duidelik: “Ons ​​wil geregtigheid vir ons kind hê. Ons wil nie mense in die gemeenskap hê wat ons jong dogters in enige ander konteks behalwe as onskuldige kinders sien nie!” het Motasi beklemtoon.

Die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die verdagtes en hul beweerde misdade ook op die dag van hul verskyning aan die kaak gestel. Brent Louis, ‘n woordvoeder vir die GPF, het in ‘n Facebook-inskrywing gedeel: “Misdaad teen kinders is ‘n gruwel wat nie geduld kan word nie.”

Louis het verder versoek dat die gemeenskap kalm bly terwyl hulle hoop dat geregtigheid geskied en dat enigiemand met inligting oor die beweerde misdaad dit by die Strand-polisiekantoor aanmeld.

Die Leaders Network-lede (voor van links) Jacky Kordom, Zorah Motasi, Lisa Visser, Rosa Galant, Drusilla Beukes, Tracy Williamsen (agter) Gavin James het die veldtog gelei om handtekeninge vir die petisies te versamel waarin geëis word dat die verdagtes nie borgtog moet kry nie. Afwesig: Donna Gertze, Lizel Myburgh, Ronel Paulse en Felicity Ndzule.
Monique Mauries met ‘n plakkaat wat lees: “Ons duld nie verkragting in die gemeenskap van Strand nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article