’n Jong vrou van Strand ontvang tans berading en leef met sosiale angsversteuring nadat sy glo verkeerdelik deur die polisie in hegtenis geneem is en onnodige trauma beleef het, wat ’n moontlike negatiewe invloed op haar toekoms kan hê.
Nakiesha Arendse is Vrydag 17 Junie deur Strandse polisiebeamptes in hegtenis geneem nadat ’n onwettige pistool en ammunisie gevind is op die perseel waar sy saam met haar bejaarde ouma en ander familielede woon. Die 20-jarige, wat as onderwys-assistent by ’n plaaslike laerskool werk, meen sy is onskuldig en sukkel om die nare ervaring te verwerk.
Haar ouma, Jacqueline, sê haar kleindogter is soos ’n ware misdadiger agter in ’n vangwa gelaai toe polisiebeamptes omstreeks 14:00 daardie Vrydag op hul woonperseel in die Rusthof-woonbuurt toegeslaan het.
Nakiesha deel ’n wendyhuis op die woonperseel met haar ouma. Die woonstruktuur is glo een van vele op die perseel, insluitend dié van Jacqueline se dogter, wie se kêrel en pa van haar kind glo aan ’n bende behoort.
Volgens Nakiesha was sy daardie dag alleen by die huis toe die polisie by ’n ander wendyhuis op die perseel ’n vuurwapen ontdek. Sy was glo onbewus van die vonds.
Volgens Jacqueline was die polisiebeamptes glo ook op soek na iemand, wat by ’n skietvoorval betrokke was en na bewering die gebruikte vuurwapen aan haar dogter se kêrel oorhandig het. Die kêrel het glo die vuurwapen, wat naby ’n wendyhuis gevind is, versteek.
Nakiesha sê die polisiebeamptes het haar na buite geroep om met haar te praat, maar het haar in hegtenis geneem en agterin die vangwa gelaai.
“Hulle het toe met my agter in die polisiewa na al die dwelm-hotspots in die woongebied gery, waar hulle verder hul raids gaan uitvoer het. By elke stop het mense in die vangwa kom inloer en hulle het gedink ek het die polisie vertel waar al die dwelm-verdagtes bly. Van die mense het verbygeloop en my toegesnou hulle weet waar ek bly en werk. Sommige het my gedreig, want hulle het gedink ek het die polisie kom wys waar al die dwelmgebruikers bly,” vertel ’n emosiebelaaide Nakiesha.
“Ek het toe al begin huil en gesoebat dat hulle my liewer polisiekantoor toe neem, maar hulle het net verder met my rondgery – selfs na Broadlandspark, waar hulle nog klopjagte gaan uitvoer het. Die inwoners daar het ook toe by die vangwa kom inloer. Ons het eers 18:00 by die polisiekantoor aangekom.”
In dié tyd is haar ouma polisiekantoor toe om te probeer uitvind wat gebeur het en om hulle in te lig dat haar kleinkind onskuldig is en dat sy vir onderwyser studeer.
“Ná al die polisie se draaie het hulle my na die selle geneem. Hulle het my toe van die vuurwapen, waarvan ek steeds nie bewus was nie, vertel. Ek was erg geskok, want dis die eerste keer dat ek in hegtenis geneem is.”
Die polisiebeamptes het haar glo ingelig dat sy weens die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem is. “Ek het in trane uitgebars. Die polisie het my gevra waarom ek huil, en ek antwoord, ‘Want dis net kriminele wat hier hoort’. Ek het hulle toe weer vertel dat ek onskuldig is. Ek kon daardie Vrydagaand nie slaap of eet nie. Ek het nie eens die toilet gebruik nie.”
Tydens dag twee van haar aanhouding is ’n 17-jarige man na bewering by haar in die sel geplaas. Hy is dieselfde tydperk in hegtenis geneem weens die moord op Brancoulin Fritz, die belowende rugbyspeler van Strand (“ ‘Ek steier oor my seun se dood’,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 22 Junie).
“Ek het geskrik en opgespring, maar toe herken ek en hy mekaar en hy noem my op my naam,” vertel Nakieshia.
Die Strand-polisie het op die koerant se navraag oor die voorval gereageer, maar ontken dat Nakieshia saam met ’n manlike verdagte in ’n sel aangehou is.
“ ’n Vroulike verdagte sal nooit saam ’n manlike verdagte in ’n sel aangehou word nie. Die vroue het hul eie selle,” sê die polisie.
Nakieshia het gedink sy sou Saterdag (18 Junie) huis toe gaan, maar is ingelig dat sy tot die Maandag sal bly wanneer sy in die hof sal verskyn.
’n Polisiebeampte het haar die Sondag ingelig dat sy vrygelaat word. “Ek vra toe hoe laat ek by die hof moet wees, maar hulle [die polisie] het my toe ingelig dat ek nie meer in die hof hoef te verskyn nie. Hulle het my toe sonder enige verdere verduideliking vrygelaat.”
Die Strand-polisie wou nie kommentaar lewer oor waarom Nakieshia “verkeerdelik” in hegtenis geneem is nie. “Die kantoor word nie toegelaat om name van verdagtes wat nie in die hof verskyn het nie, te openbaar nie. ’n Verdagte is wel aangehou vir ondersoek, maar is later vrygelaat nadat haar alibi opgevolg is,” het die polisie verduidelik nadat inligting vir plasing aan die koerant gestuur en Nakiesha se naam as die verdagte gepubliseer is.
DistriksPos & Helderberg Gazette het nadat familielede hulle tot die koerant gewend en hul ontevredenheid oor die polisie se optrede uitgespreek het, ’n regstelling geplaas (“Regstelling en verskoning,” 29 Junie).
Met verdere vrae het die Strand-polisie bevestig dat hulle wel ’n lasbrief gehad het, maar nie redes gegee waarom Nakieshia aangekeer is nie.
“Die polisie se behandeling van my kleinkind en die manier hoe hulle die saak hanteer het, het veroorsaak dat Nakieshia bang is om uit te gaan. Sy sit die heeldag by die huis. Sy is te bang om haar kop by die deur uit te steek, want almal maak aantygings dat sy saam met die polisie gewerk het. Van die ander bewerings is dat sy ’n misdadiger is. Sy ontvang tans berading en sal volgende kwartaal weer by die skool begin werk.
“Nakieshia wou die onderwys los en by die polisie aansluit, maar ná haar ervaring het sy alle vertroue in die polisie verloor.”

