‘n Saak van ontvoering is geopen teen drie verdagtes wie ‘n vrou in ‘n motor gedruk het en weggejaag het. Gelukkig is die vrou gered deur ‘n weldoener.

Rick Marais

’n Held sonder ’n naam het opgestaan en die regte ding op die regte tyd gedoen deur ’n 23-jarige vrou in Somerset-Wes te red toe sy glo byna deur haar gewese kêrel ontvoer is.

Die held, wat verkies om anoniem te bly, was Vrydagmiddag (18 Augustus) omstreeks 17:30 op pad om inkopies in Somerset-Wes te doen toe hy sien hoe ’n jong vrou deur ’n klomp mans in ’n motor geprop word. Die motor het weggejaag met die vrou binne-in.

Die man sê hy kon nie net wegkyk nie en het opgetree deur die voertuig agterna te sit.

“Ek het op instink gereageer nadat ek gesien het hoe die vrou by die sirkel naby ’n plastiekwinkel besig was om met ’n paar mans, wat haar in ’n voert uig probeer indwing het, te stoei. Ek het by ’n sirkel verder op in die pad omgedraai en op daardie tydstip het die voertuig met die vrou in weggejaag,” vertel die held.

Sers. Suzan Jantjies, ’n woordvoerder van die Somerset-Wes-polisie, het bevestig die vrou se gewese kêrel en twee ander verdagtes het haar by die Value Mart-winkelsentrum in Centenary-rylaan naby Somerset Mall in hul voertuig ingedruk. Die kwaaddoeners het hulle egter misgis en in spitsverkeer beland.

“Ek het langs hulle stilgehou en hulle beveel: ‘Laat die vrou gaan!’ maar hulle het my gewaarsku deur twee messe te wys. Die vrou het op daardie oomblik uit die motor gespring,” sê die weldoener.

Sy het agter iemand, wat op ’n fiets gery het, gaan skuiling soek en die anonieme helper het toe ook bygestaan om haar te help.

“Met die fiets as buffer kon die vrou keer dat die mans haar nie weer wegvat nie en sy het by my kar ingeklim. Ek het haar gevra of ek haar polisiekantoor toe kan neem, maar sy het gevra dat ek haar huis toe, waar mense haar kon beskerm, neem,” voeg die man by.

Kort hierna het die man veiligheidswagte by die winkelsentrum ingelig dat die vrou veilig is.

Jantjies het bevestig die drie verdagtes – onderskeidelik 25 (die gewese kêrel), 45 en 46 jaar oud, is met die ontvoeringsaak verbind. Kort daarna is twee van die verdagtes in hegtenis geneem en die derde het hom aan die polisie oorgegee.

Kol. Jacolize Fleischmann, die bevelvoerder van die Somerset-Wes-polisiekantoor, het die weldoener geprys en hom ’n held genoem. Sy het bevestig die polisie sal die verdagtes se borgtog teenstaan. Sy het die weldoener bedank nadat hy sy eie lewe in gevaar gestel het om die vrou te red.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article