Die afgelope Sondag (14 Mei) was Moedersdag – die enkele dag wat toegewy is aan die belangrikste vrou in die gesin en bring eer aan alle ma’s en hul moederskap. Vir talle moeders het die spesiale dag daartoe gelei dat sy met kosbare gebare uit onvoorwaardelike liefde deur haar kinders, wat in sekere gevalle die hulp van pa moes inspan, bederf is.
DistriksPos & Helderberg Gazette het verlede week, voordat dié spesiale geleentheid aangebreek het, by peuters en kleuters van die Ruimte-sentrum-kleuterskool in Strand uitgevind wat Moedersdag vir hulle beteken en waarmee hulle mamma wil verras.
Vierjarige Johané Harmse het op haar beurt gespog met ’n “spesiale geskenkie” waarmee sy Mamma se hart sou steel. “Pappa het ’n foto van my en sussie geneem, wat ons in ’n raampie gaan sit en vir Mamma op Moedersdag gaan gee,” het sy ywerig meegedeel.
Die oomblik was ’n bietjie groot vir die beskeie klein Conrad van Marcke, wat wel geweet het Moedersdag is ’n spesiale dag vir Mamma en hy gaan haar met hierdie aandenking, wat sy vir ewig kan koester, verras.
Beide Pieter Blomerus en Jurgen Dorfling het verduidelik hulle het “sommer” ’n boekmerkie vir hul mammas gemaak, wat hulle word gereeld met lekker kos en etes by Spur bederf.
Vir die vierjarige Jacques van Zyl en Isabella Botha beteken Moedersdag “Liefdesdag”. Albei het vir hul mammas, wat van drukkies, dans en soentjies hou, kaartjies met hartjies en ’n sjokolade gemaak om hul liefde te toon.