Die Voortrekkers Strand ampsdraers (agter van links) is Amanda van der Westhuizen, Chrisna van der Merwe, Zelmoniek Kleinhans, Niel Kleinhans, Amelia Vorster, Michelle Nepgen, Christo Nepgen en Andries Malherbe. Voor is Ghian du Toit and Bobbie Paxton. Foto: Yaseen Gaffar


Die voorreg om ’n bydrae tot die ontwikkeling en ondersteuning van jong mense in die gemeenskap te lewer, is waarvoor die Strand Voortrekkers opnuut dankbaar is nadat dié jeug- en kultuurorganisasie vroeër vandeesmaand 92 kersies op sy verjaardagkoek van lewenskragtige sukses uitgeblaas het!

Die organisasie, wat gesentreer is rondom betrokkenheid, praktiese omgee en diensbaarheid, het die mylpaal gevier met ’n lekker verjaardag-kaperjol wat Saterdag 24 Augustus by hul perseel in Woltemade-straat aangebied is (“Voortrekkers-pretdag,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 28 Augustus).

“Dit is vir ons ’n groot voorreg en ons is baie opgewonde om nog een van min kommando’s te wees wat nog die voorreg het om terug te kan ploeg in die jeug,” sê die Strand Voortrekkers-bemarker Amanda van der Westhuizen.

Die Strand Voortrekkers is in Augustus 1932 gevestig en byeenkomste is destyds op ’n plaas, Altena – waar die ouetehuis Ametis vandag staan – gehou. Die Strand-kommando het in 1953 na ’n erf in Sarel Cilliersstraat geskuif en die vlag is op 31 Julie 1982 vir die laaste keer by dié terrein gestryk.

Die Strand Voortrekkers het twee maande later, op 9 Oktober 1982, sy nuwe terrein in Woltemadestraat amptelik ingewy. Getrou aan die oorspronklike stigtingsideale van NJ van der Merwe, Vader Visser en Japie Heese, is die Voortrekkers vandag steeds ’n toekomsgerigte jeugorganisasie.

Die Strand-kommando het 16 kommando-leiers oor die dekades heen gehad, onder wie:

  • Mev. Hofmeyr-Uys (1932-’33);. Dan Morkel (1933-’45);
  • Deon Jooste (1945-’46);
  • Martin Potgieter (1947-’56);
  • Dawie du Toit (1956-’61);
  • Pam Brink (1961-’73);
  • Ds. H Janse van Rensburg (1974- ’76);
  • Bertie van der Merwe (1977-’86);
  • Francois Humphries (1987-’91);
  • Fanie Swart (1992-’93);
  • Chris van Staden (1993-’95);
  • Annalie Delsink (1995-’97);
  • Hugo Brand (1997-’98);
  • Francoisnette van Zijl (1999-2007);
  • C Smart (2008-’23).

Amelia Vorster het vanjaar die leisels as kommando-leier oorgeneem en saam met die sewe offisiere en ses heemraadslede word die kommando se 53 jongelinge op ’n pad van kultuur, avontuur en natuur gelei.

Vorster het reeds in 1982 as kind by die Voortrekkers aangesluit. Sy het in 2002 by Strand Voortrekkers aangesluit, waar sy gevoel het dat sy as offisier soveel het wat sy die kinders kan leer, want as kind het die Voortrekkers baie vir haar beteken.

In 2017 het sy die portefeulje van adjunk-kommando-leier en administrasie en finansies aanvaar. “Die Voortrekkers is nie iets wat ek doen nie – dit is deel waarvan ek is!” meen Vorster.

Op ’n vraag oor wat die organisasie se doel is, verduidelik Van der Westhuizen die Strand Voortrekkers is ’n aktiewe jeugorganisasie vir kinders van graad R tot matriek, wat kleingoed se karakter deur Bybelse waardes begelei om as oortuigde Christene nie net hierdie geestelike waardes in hul persoonlike lewe uit te leef nie, maar ook om gemeenskapswaardes deur middel van diens, deelname en standpunte te help vorm.

“Ons bemagtig kinders om lewensvaardighede te ontwikkel, sodat hulle as uitnemende en diensbare leiers ’n betekenisvolle en positiewe bydrae tot Suid-Afrika en die vasteland kan lewer.

“Ons bied hulle ook geleentheid om meer oor die Afrikanerkultuur en -geskiedenis te leer. Ons fokus is om betekenisvolle en pret oomblikke gevul met avontuur te skep,” voer sy aan.

Volgens Van der Westhuizen het die Strand Voortrekkers hulself as ’n gewaardeerde jeug-en-kultuur-organisasie gevestig wat ’n veilige omgewing bied waar kinders hulle kan uitleef en die natuur kan geniet.

“Die Voortrekkers is ’n langtermynbelegging in jou kind se toekoms. Ek moedig gesinne met jonger kinders aan om van kindsbeen gesonde gewoontes by hulle te kweek.

“Die Voortrekkers bied reg deur die jaar gedurende skoolvakansies en oor naweke kampe aan. Dit is die ideale geleentheid om kinders uit die huis te kry en weg van tegnologie van die alledaagse lewe. By die Voortrekkers glo ons daaraan om kinders leiers van hulle eie lewe te maak.

“Waar anders sal kinders vandag die kans kry om knope te maak, vuil te word, berge te oorkom, staproetes te verken, in branders te roei, deur riviere te swem, in skuilings te slaap wat hulle self gebou het, rigting met sterre te vind of sommer net laataand om ’n kampvuur te kuier?”

  • Besoek https://voortrekkers.co.za/ vir meer inligting of navrae oor lidmaatskap, of stuur e-pos aan die Strand Voortrekkers by strand@voortrekkers.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article