’n Hernude veldtog teen hondsdolheid is vandeesweek in die Helderberg van stapel gestuur.
Dit volg nadat die dodelike siekte vroeër hierdie maand (Maart) by ’n plaaslike hond gediagnoseer is glo verskeie ander voorvalle in die Kom gevolg het.
Volgens Daniel Johnson, woordvoerder vir die minister van landbou, Ivan Meyer, het die Wes-Kaapse Veeartsenydienste voorverlede Maandag (7 Maart) laboratoriumuitslae ontvang wat hondsdolheid by ’n hond in Bosmanstraat bevestig het.
Hondsdolheid is ’n virussiekte wat diere en mense kan raak. Dit word normaalweg oorgedra as ’n mens of dier deur ’n besmette dier gebyt, gekrap of selfs gelek word. Die kliniese tekens by diere is gedragsveranderings (aggressiewe diere word mak en mak diere word aggressief) en progressiewe verlamming. Honde en katte kan sukkel om te sluk met speeksel wat uit die mond drup en dit word deur speeksel of ander liggaamsvloeistowwe oorgedra. ’n Hond of mens kan byvoorbeeld besmet word deurdat ’n hondsdol dier so dierof mens byt, krap of lek.
“Sodra hondsdolheid vasgestel is, is daar geen effektiewe behandeling nie. Hondsdolheid is egter baie maklik om te voorkom deur honde en katte in te ent,” het Johnson gesê.
Hoewel Johnson meegedeel het dat hondsdolheid by een hond bevestig is, het Julia Evans gesê die Helderberg-dierewelsynsvereniging het vier gevalle gehad. “Dis ’n groot probleem,” het die bestuurder van die DWV aangevoer.
Volgens Evans ent die organisasie deur sy mobiele dienste daagliks diere (van alle ouderdomme) in verskeie plaaslike gemeenskappe teen hondsdolheid in. “Ons sal voortgaan om te help met inentings deur ons mobiele dienste en dit ook by ons veeartsenykundige fasiliteit in Gordonsbaai aan te bied.”
Evans het verduidelik dat diere aanvanklik inentings teen hondsdolheid ontvang, met ’n booster ’n maand later en jaarliks daarna. “Dit neem ongeveer twee weke vir die entstof om ná die inenting te begin werk. Daarom word die booster sterk aanbeveel.”
’n Beroep word verder op troeteldiereienaars gedoen om hul viervoetige familielede teen die virus te beskerm en gratis inentings word by verskeie plekke in die Strand aangebied.
Die provinsiale departement van landbou se veeartsenykundige amptenare het inentingspunte van die begin van die week af beman – in Victoriapark (Dinsdag 15 Maart) en agter die Kwikspar by die Goede Hoop-winkelsentrum in Da Gama-straat gister (Woensdag 16 Maart). Nog ’n inentingspunt word tussen 11:00 en 16:30 vandag (Donderdag 17 Maart) by die NG Lourensrivier Gemeente gehou.


