Sondag (23 April) is Wêreld-boekdag, en om dit te vier, het ons met iemand gesels wat al honderde boeke gelees het en vas glo ’n boek kan iemand se lewe verander.
Rina Swart, die voorsitter van die U3A-Helderberg se Afrikaanse leeskring en in Strand woon, glo boeke maak ’n mens se kop oop vir ander sienings.
“Dit maak jou kop ook oop vir ander se menings en opvattings; dit neem jou na plekke en trek jou deur emosies. Jou wêreld stop nie jou voor hek, straat, buurt of stad nie. Die aardbol word jou kuierplek wanneer jy lees,” sê Swart.
Haar fassinering met boeke het al voordat sy skool toe is, begin. “My pa het ’n digbundel van A.G. Visser gehad en vir my voorgelees. Ek was totaal verwonderd dat ’n mens jou gevoelens só kan uitdruk. Vakansietye het ek en my pa saam ’n boek gelees en beurte gemaak om te lees. Ek onthou ons het Vlug in die Namib gelees. Destyds het ’n juffrou my toegelaat om die laerskool-biblioteek van voor tot agter deur te lees.”
Tans behoort Swart net aan die U3A-Helderberg se Afrikaanse leeskring, maar sy bieg sy het in ’n stadium aan meer as een boekklub behoort, maar dit het later vir haar soos ’n werk begin voel. Sy het boonop ook ’n besige sosiale lewe. Sy woon wel ander boekklubs se sessies by as hulle ’n interessante skrywer op die program het.
Sy beskryf ’n suksesvolle skrywer as iemand wat kan “verdwyn” en toelaat dat die storie ’n leser insluk.
Swart sê dis baie belangrik vir die jonger geslag om self ook te begin lees. “Dis baie belangrik. Dit maak hul koppe oop en laat hulle besef die wêreld draai nie om hulle nie. Dit help hulle ook om emosies deur te werk, en dis die beste geselskap vir ’n eensame kind of tiener,” voeg sy by.
Sy gaan self Wêreld-boekdag vier deur ’n boek te koop wat sy al lank begeer en sy wil op dié dag ook kinderboeke by ’n plaaslike biblioteek gaan help herstel, want dis al hoe ’n jong leser ’n boekwurm kan word – deur self die biblioteek te besoek en te lees.
“Boeke is maklike vriende – hulle soek nie aandag nie; jy hoef hulle nie te bel nie; hulle eet en drink nie; jy kan hulle neersit vir dae, en as jy die boek optel, is alles reg. Daarbenewens ruik ’n nuwe boek ruik lekkerder as die duurste parfuum!”



