Owerhede op die toneel waar ’n Mercedes Benz en ’n Ford Bantam in die vroeë oggendure van Saterdag gebots het. Foto: Facebook


Vier mense is die afgelope naweek in ’n botsing buite Macassar dood.

Die voorval het Saterdag (25 Junie) in die vroeë oggendure op die N2 tussen Baden Powell en die Kramat-brug gebeur toe ’n motorvoertuig en ’n bakkie teen mekaar gebots het.

Volgens ’n woordvoerder van die Macassar-polisie het polisielede omstreeks 05:45 op die voorval reageer.

Ooggetuies beweer ’n Mercedes-Benz het teen ’n “helse spoed” in die rigting van Somerset-Wes op die snelweg beweeg en van agter teen ’n Ford Bantam-bakkie wat vermoedelik in dieselfde rigitng gery het, gebots.

“Drie mense – twee 31-jarige mans en ’n 21-jarige vrou, wat agter in die bakkie gesit het – is met die slag in die voorval dood. ’n Passasier, ’n 41-jarige man wat voor in die bakkie gesit het, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Die bakkiebestuurder moes uit die wrak gesny word,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Jermaine Carelse, woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, het bevestig dat die bakkiebestuurder met die gebruik van meganiese kake deur nooddienspersoneel bevry is. “Om 06:16 is een volwasse man uit die wrak gehaal, behandel en hospitaal toe vervoer,” het Carelse gesê.

“Die toneel is net voor 08:00 aan die polisie se forensiese deskundiges oorhandig.”

Die 54-jarige bestuurder van die motorvoertuig is ongedeerd en is kort ná die voorval op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag in hegtenis geneem.

Die verdagte, ’n vermeende prokureur wat glo al voorheen met die gereg gebots het, het Maandag (27 Junie) in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak is uitgestel tot vandag (Woensdag 29 Junie) vir ’n formele borgtogaansoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article