Wyk 100 herdenk Jeugdag (Donderdag 16 Junie) met ’n sportdag wat by die Gustrouw-sportterrein aangebied word.
Altesaam 200 jongmense uit Gustrouw, Broadlandspark, Casablanca, Sercorpark en Temperance Town gaan aan die sportdag met die tema, “Hoop vir die toekoms” deelneem.
Brendyn Alloys, sekretaris van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), tree as seremoniemeester by die geleentheid op en van die rolspelers by die geselligheid sluit in die Wyk 100-raadslid Sean Stacey, Jeremy Hazel van Change Ability, Charlton October van Gordonsbaai se rugbyklub asook kolonekl Khunjulwa Khanyile, Strand-polisie se stasiebevelvoerder.
Rugby, netbal en sokker sal by die sportdag, wat van 09:00 tot 16:00 sal duur, aangebied word.
Masincedane-gemeenskapsdienste asook personeel van die Gustrouw-kliniek sal vrywillige berading en gesondheidstoetse doen.
“Hulle sal suiker-, diabetes-, bloeddruk- en ander gesondheidstoetse doen. Bewusmaking rakende tienerswangerskappe en watter voorkomingsmetodes gebruik kan word, is ook op die program,” deel Alloys.
Volgens hom is die doel van die dag om ’n band deur middel van sport tussen die gemeenskap en jongmense te bou.
“Ons wil ook betrokke raak by maatskaplike misdaad-voorkomingsprogramme vir jongmense om aan hulle die opsies te bied om positiewe leefstylkeuses te maak,” voeg hy by.


