Trek die komberse nader en raak gemaklik, want in Junie het VIA ’n magdom nuwe programme.

Frank Rautenbach en die manne kuier in sy man cave in ’n splinternuwe reeks, Hier sit die manne.

Dis vir baie ’n kriewelrige onderwerp, maar hier is ons nie skaam nie, ons vat jou tot in die spreekkamer van die veldokter in Dr. Etter, en die glanspaartjie Bianca en David sit koppe bymekaar in Trou, trek of toer. Die ou gunstelinge Slim vang sy baas en Meer as grond is ook terug met nuwe reekse.

Meer as grond keer terug plaas toe vir ’n derde reeks. In dié reeks gaan lê Lynette Francis-Puren besoek af by boere van oor die land heen. Sy gesels met hulle oor die vernuwing op hul plase, plaaskwessies wat ’n invloed op die land het, asook die mense en maatskappye wat hulp verleen as dinge moeilik gaan. In samewerking met Agri SA. Die vervaardiger Ronel Botha sê: “Lynette is ’n mense-mens – sy is nuuskierig, maar ook warm en gemoedelik. Dit beteken sy kan by boere tegniese inligting verkry oor hul boerdery en besigheidsbenadering, maar sy stel ook regtig belang in mense en hul uitdagings. Dit is vir ons belangrik om nie net landbou se bydrae tot die ekonomie aan die publiek uit te wys nie, maar ook die ongelooflike mense wat die dryfkrag agter hierdie sektor is.”

  • Van Woensdag 7 Junie, Woensdae om 18:00 met heruitsendings Sondae om 10:00.

Kom verken die skoonheid van die tuinroete saam met die joernalis Marliza van den Berg in die tweede reeks van Op soek na Eden. Kykers kan uitsien na avonture, asemrowende natuurskoon en die mooiste stories van die Suid-Kaap. Ons besoek interessante blyplekke en feeste en ry proe-proe deur dié mooi deel van ons land.

  • Van Dinsdag 13 Junie, Dinsdae om 19:30 met heruitsendings Dinsdae om 22:30.

Onthou jy nog vir Tiaan van 7de Laan? In die splinternuwe geselsprogram Hier sit die mannenooi Frank Rautenbach VIA-kykers tot binne-in sy man cave. Die gaste sluit in Ernst Joubert, Dean Greyling, Michael van Vuuren, Altus Theart en Janina Oberholzer. Hulle praat rugby, karre, visvang, jag, reis en beleggings – alles wat die manne na aan die hart lê. En natuurlik moet Frank ’n wing-woman hê. Terwyl Frank met gaste gesels in die man cave sal die TV- en radio-aanbieder Carla Mackenzie verskillende rolspelers vanuit die sportwêreld langs die kantlyn van die rugbyveld gaan ontmoet.

  • Van Woensdag 21 Junie, Woensdae om 17:30 met heruitsendings Saterdae om 17:30.

Dr. Ansua Steyn duld nie drama van aknee, siste, vetgewasse en ander dermatologiese dilemmas nie! In die splinternuwe reeks Dr. Etter klop pasiënte by dié veldokter se spreekkamer aan vir hulp met allerhande velprobleme. Moenie dat die naam van die program jou afskrik nie, dié dokter verander werklik mense se lewe.

“Dr. Ansua se energie en insig pas perfek by VIA. Ons sien daarna uit om iets waaroor baie mense skaam is om te praat op ’n vars manier na die kykers te bring,” sê Azelia Morkel, kanaalhoof van VIA.

  • Van 21 Junie, Woensdae om 20:30 met heruitsendings Donderdae om 21:00.

Praat van ’n dinamiese duo! In Trou, trek of toer help die akteurspaar Bianca le Grange en David Johnson besluitelose paartjies om ’n belangrike keuse te maak: Gaan hulle geld spandeer op ’n troue, ’n deposito op ’n eiendom neersit of eerder met vakansie gaan? Met moeilike besluite kom dikwels meningsverskille. Sal die paartjies die regte besluit neem? Of sal die druk hul verhoudings laat knak?

  • Van 21 Junie, Woensdae om 20:00 met heruitsendings Sondae om 19:30.

As die eerste episodes van Swartskaap jou regop laat sit het, maak dan reg vir nog fassinerende kykstof: Splinternuwe episodes van dié dokumentêre werklikheidsreeks wag op jou.

Van die hoogtepunte waarna jy kan uitsien, is ’n kykie in die Swallows Flight-motorfietsklub, donkievelhandel, veediefstal, prostitusie en die nuwe brutale sport wat besig is om wêreldwyd opslae te maak, slap fighting.

  • Van 22 Junie, Donderdae om 20:00.

Ons gunsteling-speletjiemeester, Beer Adriaanse, is terug met ’n nuwe reeks van Slim vang sy baas. Kyk hoe twee spanne van vriende, familie en kollegas vuur spoeg terwyl hulle in agt rondes oor die kole gehaal word. Ná ses gewilde reekse trek Slim vang sy baas se stel ook ’n nuwe baadjie aan, en van die speletjies het nuwe kinkels.

  • Van 23 Junie, Vrydae om 17:30 met heruitsendings Saterdae om 21:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article