Die 33-jarige verdagte is 15 minute ná ’n voorval waarin hy en ’n ander vermeende rower twee mense aangeval het, aangekeer. Dit is alles te danke aan die flink-dink- en spanwerk van veiligheidsbeamptes, die buurtwag en die polisie. Foto: AfriForum Strand Patrol


“Kom help!”

’n 19-jarige-slagoffer en sy vriendin is wonder bo wonder ongedeerd nadat hulle deur twee rowers in Cradockstraat in Strand aangeval is. Een is net enkele minute ná die voorval vasgetrek.

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die voorval het die afgelope Saterdag (9 Maart) by die Mondeor-woonstelle plaasgevind.

KC Gericke, die veiligheidsvoorsitter van die AfriForum Strand Patrol-buurtwag, sê hulle het teen 16:43 ’n stemboodskap op hul veiligheids-WhatsApp-groep ontvang waarin familie van die jongman skree vir hulp en hulle in kennis stel dat die verdagtes te voet gevlug het.

Beukes het bevestig die slagoffer en sy vriendin is in ’n motorhuis in die Mondeor-woonstelle deur twee rowers aangeval. Die twee was in die motorhuis toe twee manlike rowers instap. Een het die slagoffer se vriendin gegryp en haar om haar nek vasgehou. Die tweede rower het die 19-jarige slagoffer met ’n metaal- voorwerp op die been geslaan.

“Ons het vinnig gereageer en Vetus Schola was ook saam met ons op die toneel. Ons het gesoek na die verdagte met ’n rooi pet wat die slagoffer glo met ’n ‘crowbar’ geslaan het. Ons het toe iemand met ’n rooi pet gesien, maar moes eers seker maak dit is die verdagte na wie gesoek word. Die man is toe vasgetrek nadat hy erken het hy het die slagoffers aangeval. Hy het gesê hy het die ‘crowbar’ in die bosse gegooi,” onthou Gericke.

Die tweede verdagte het te voet gevlug en oor die nabye treinspore verdwyn. Hy is nog nie aangekeer nie.

Dit was egter die spoed van die buurtwag, veiligheidsbeamptes en die polisie se optrede wat teen 16:58 – slegs 15 minute ná die voorval – tot die inhegtenisneming gelei het.

“Die 33-jarige verdagte het die afgelope Maandag (11 Maart) die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn,” het Beukes gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article