Die Macassar-polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen nadat ’n vermeende dief in ’n gefnuikte inbraak die slagoffer van ’n noodlottige skietvoorval geword het.
Die voorval het Woensdag (1 Februarie) in die vroeë oggendure in die gemeenskap afgespeel en sosialemediaplatforms aan die gons gehad nadat die gewonde verdagte in ’n sloot tussen die Deep Freeze- en Brandwag-woonbuurte, waar hy aan sy wonde beswyk het, gekry is.
Die slagoffer is later uitgeken as Ronaldo Solomons, ’n 33-jarige inwoner van die Deep Freeze-gemeenskap.
Volgens ’n Macassar-polisiewoordvoerder was Solomons glo een van twee mans wat omstreeks 02:00 op ’n leegstaande huis in Cheetah-straat toegesak het. Bure het glo onraad vermoed en ondersoek ingestel nadat hulle wakker geword het weens die klank van lopende water uit ’n lekkende warmwatertoestel, wat skynbaar van belangrike pype gestroop is.
“Die polisie is ontbied, en in ’n poging om van die lang arm van die gereg te ontsnap, het die inbrekers oor die dakke van naburige huise probeer vlug. In die gehardloop het een skielik deur ’n buurman se dak geploeg en in die huis beland. ’n Gestoeiery het tussen die buurman, wat met ’n vuurwapen reageer het, en die inbreker ontstaan. In die geworstel het [Solomons] glo na die vuurwapen gegryp en ’n skoot is afgevuur,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Solomons het ’n skietwond aan die bors opgedoen, maar steeds daarin geslaag om op te staan en verder te hardloop. Hy het in die rivier neergeslaan en aan sy wonde beswyk.
Volgens die woordvoerder het polisielede van die items, waaronder die geiser, wasbakke, muursokke, ligskakelaars, ’n strykplank (wat in die dak gestoor was), gordynrelings en selfs die diefwering wat hulle as buit bymekaargemaak het, binne en buite die huis waarop hulle toegeslaan het, gevind.
Die tweede verdagte, ’n 17-jarige seun wat kort ná die voorval in die huis betrap is, is in hegtenis geneem. Hy het Vrydag (3 Februarie) op aanklagte van huisbraak en diefstal in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn. Die saak was Maandag (6 Februarie) weer in die hof en is tot Maandag (13 Februarie) uitgestel.


