Beeldmateriaal van die 35-jarige-verdagte met die gesteelde fiets. Foto:

Credit: SYSTEM

Diewe het die naweek by die huis van ’n bekende koerantman van Southfork in Strand ingebreek terwyl sy seun, dié se vrou en hul dogters, en sy 83-jarige-ma aan die slaap was.

’n Skootrekenaar en ’n fiets is tydens die inbraak gesteel.

Julian Jansen, ’n verslaggewer by Rapport, het kort ná die inbraak vroeg Saterdagoggend (20 Januarie) beeldmateriaal, wat op sy buurman se kamera afgeneem is van hoe ’n man met ’n wit hemp en driekwart broek sukkel-sukkel om sy gesteelde fiets met ’n pap band in Dallasstraat af te stoot, op sosiale media gedeel.

“My seun, sy twee dogters asook my 83-jarige ma was ten tyde van die inbraak in die huis. Ek was in die Kaap. Toe my seun, wat ’n onderwyser is, wakker word, toe sien hy sy skootrekenaar waarop hy sy skoolwerk doen, is weg. Hy het dadelik onraad vermoed en agtergekom dat my fiets ook gesteel is,” sê Jansen.

Hy het vinnig gedink en sy buurman geskakel, en dié het op sy veiligheidskamera gesien hoe ’n man verby die woning stap en kort daarna is hy weer verby die woning terwyl hy ’n fiets gestoot het.

Kort nadat Jansen die video op sosiale media gedeel het, het mense vorendag gekom met die verdagte se naam, van en adres en al die info is met die polisie gedeel.

“Ek het vir hom op Facebook ’n boodskap gestuur en gesê: ‘Boeta, doen die regte ding. Ek is nie kwaad vir jou nie, ek is net teleurgesteld. My seun is ’n onnie en hy benodig daardie skootrekenaar. Die fiets wat gesteel is, het ek by ’n goeie vriend van my gekoop.”

Jansen het gehoop dat die dief, wat hy glo ook goedheid in sy hart het, die items sou terugbring, maar ten tyde van die verdagte se inhegtenisneming (wat later op dieselfde dag plaasgevind het) is geen van die items in sy besit gevind nie.

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van Strand-polisie, het bevestig die verdagte word aangehou in verband met die diefstal van ’n selfoon, ’n skootrekenaar en ’n fiets. “Die voordeur van die woning was toe, maar nie gesluit nie. Die 35-jarige verdagte het Maandag (22 Januarie) in die hof verskyn,” voeg Beukes by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article