Sjanel Vosloo en Suenel Myburgh vier die kuns van vrouwees met hul bekroonde komediese kabaret, Ont(POP), by The Drama Factory.


Sjanel Vosloo en Suenel Myburgh gaan die gehoor van The Drama Factory laat skaterlag wanneer hulle Vrydag 9 Augustus hul komediese kabaret-vertoning, Ont(POP), na die Helderbergse teater bring.

In dié Woordtrofee-wenner-vertoning prikkel Vosloo en Myburgh die lagspiere wanneer hulle loer na hoe die wêreld die vrou sien. Die komediese duo kyk na die gebroke drome van ’n ma en die prentjies wat vroue van hulself skep. Dit is alles goed en snaaks, totdat ons neerlê hoe spesiaal vroue eintlik is.

Vir jou is sy net ’n pop, of is sy die universele vrou, ma, dogter, vriendin, maar het jy al ooit die tyd geneem om haar verder te bestudeer?

In vandag se tyd vervul die vrou vele rolle. Kom kyk hoe die komediante dit uitbeeld en vier, en besluit dan self watter “soort” vrou jy is. Dié twee grapjasse vat die ernstige beeld van vrouwees en lag vir hulself, want as hulle dit nie doen nie, wie gaan?

Myburgh en Vosloo het Ont(POP) in 2014 geskryf. Die stuk was dadelik ’n gunsteling, en is in 2015 met die Woord-trofee vir die Beste nuwelinge by die Woordfees in Stellenbosch bekroon.

’n Dekade later vier die dinamiese duo goeie vermaak en beplan om nog groter te gaan. Die vertoning is een wat jy self moet kom kyk om dit te waardeer – jy wil nie dié een misloop nie.

Dit word om 19:30 by The Drama Factory in Strand opgevoer.

  • Kaartjies, teen R160 elk, is aanlyn by www.thedramafactory.co.za verkrybaar.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article