Kaapstad se Suidoosterfees en Suidooster, kykNET se gewilde reeks, is soos familie wat dieselfde van deel. By vanjaar se 20ste fees is talle van die sepie se sterre in verskillende produksies op die feesverhoog.
In 2022, was Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en dansproduksie, ’n wegholtreffer op die feesprogram, en in 2023 kom blaas Suidooster-akteurs die fees se verjaarsdagkerse uit met Suidooster Stormsterk 2.
Jawaahier Petersen, Irshaad Ally, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is op Saterdag (29 April) om 17:00 op die Artscape-verhoog vir dié spesiale geleentheid. Dié produksie geskied in samewerking met The Stage Performing Arts Studio van Durbanville.
Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, is Saterdag (29 April) om 18:30 in Hallo, is Bettie wat praat te sien. In dié komedie is Dean in die skoene van die skreeusnaakse Aunty Bettie wat beroemd en berug geraak het op sosiale media.
Feesgangers kan op Vrydag (28 April) om 12:30 en Saterdag (29 April) om 15:30 kom kyk wat die tante alles kwytraak as die mikrofoon in haar hand gedruk word.
Die talentvolle Dean, wat ook al ’n kykNET Fiësta-toekenning ontvang het, is ook in die teaterproduksie Karatara te sien. Dié stuk is op die Knysna-ramp van Oktober 2018 geskoei toe ’n brand in die middel van die nag dele van die dorp in puin gelê het. By KKNK 2022 is dit as beste debuutproduksie aangewys en vir verskeie toekennings benoem. Karatara is op Maandag (1 Mei) om 16:00 op die planke by die fees. Die Suidoosterfees duur van vandag (Woensdag 26 April) tot Maandag 1 Mei by Artscape en kaartjies is by Computicket te koop.
- Kaartjies vir die Suidoosterfees-produksie is by Computicket te koop.
https://tickets.computicket.com/event/magda_louw/6939874



