Frank Opperman maak aanstaande maand ’n Kaapse draai met die verhoogstuk Reünie, wat deur Dana Snyman geskryf is.
Dit is dieselfde skoolsaal, maar dis 40 jaar later. Ja, dis die 1980-matriekgroep se reünie soos beleef deur Petrus Boshoff, die verteller. Die voormalige matrieks word gekonfronteer met die spoke van die verlede en ’n tragedie wat hulle 40 jaar gelede saam beleef het.
Snyman en Opperman het al verskeie kere kragte saamgesnoer in die skep van eenmanstukke – Snyman met die pen en Opperman op die verhoog – met onder meer Die uwe, Pottie Potgieter, Rooikaart, Hond, Klaagliedere van dominee Tienie Benade en Donkie.
Met Reünie is die sterk regisseurshand van De Klerk Oelofse bygevoeg en ’n mens kan dieselfde fyn spot, deernis en ’n tikkie nostalgie verwag.
Die verhoogstuk was die topverkoper by Innibos 2023 en is vir ’n KykNet Fiesta vir beste akteur en beste nuwe teks benoem.
Reünie is van Woensdag 7 tot Sondag 11 Februarie op die verhoog by die Strandse teater. Vertonings is Woensdag, Donderdag en Saterdag om 19:30, en Sondag om 16:00. Kaartjies kos R220 (R200 vir pensioentrekkers en studente). Bespreek aanlyn by www.thedramafactory.co.za.



