Die internasionale Stellenbosch-kamermusiekfees (SIKMF) het in 2004 tot stand gekom en is die geesteskind van prof. Nina Schumann, wat as artistieke direkteur van die fees optree.
Buiten die twee Covid-19-jare het die fees sedertdien elke jaar in Julie plaasgevind. Dit is die enigste fees van sy soort in Afrika en trek jaarliks omtrent 300 studente. Die internasionaal bekende kunstenaars wat verlede jaar by die fees opgetree het, was van 17 verskillende lande.
Schumann is reeds hard aan die werk om die verskillende konsertprogramme vir die 20ste SIKMF op te stel, wat vanjaar van Vrydag 4 tot Sondag 13 Julie plaasvind.
Die feesdirekteur, Peter Martens, wat van die begin af by die reëling van die fees betrokke is, sê: “Hoewel ’n aantal uitstaande nuwe kunstenaars op die program sal wees, sal die personeel hierdie keer hoofsaaklik uit kunstenaars bestaan wat oor die afgelope 20 jaar belangrike bydraes tot die fees gelewer het.”
Aangesien die 20ste SIKMF sonder twyfel weer ’n hoogtepunt sal wees, word studente aangeraai om vroeg aan te meld. Registrasie is nou oop en deelnemers wat teen Vrydag 14 Februarie aansoek doen kom, vir ’n aansienlike afslag in aanmerking.
“Ons is baie trots op die bydrae wat ons tot transformasie by die Universiteit Stellenbosch maak. Ons het die laaste 20 jaar ’n lang pad gestap. Die afgelope twee jaar was die meeste van ons studente uit voorheen benadeelde gemeenskappe,” sê Martens. “In 2025 sal ons meer as ’n halfmiljoen rand vir beurse beskikbaar stel.”
Beurse sal op grond van finansiële behoeftigheid toegeken word, ongeag die vaardigheidsvlak van die student, op voorwaarde dat ’n minimum vlak reeds bereik is. Martens voeg by “beurse [sal] toegeken word in volgorde van aanvraag, daarom word behoeftige studente aangeraai om vroeg aan te meld”.
Besonderhede oor die konserte word vroeg vanjaar bekendgemaak. Intussen word konsertbesoekers aangeraai om die webwerf www.sicmf.co.za dop te hou
- Voornemende studente kan aanmeld by https://www.sicmf.co.za/online-entry/.




