Luna Paige (foto) en baskitaarspeler Schalk Joubert durf volgende maand (Mei) die plaaslike verhoog aan en beloof om met hul musikale vernuf gehore te bekoor.


Die sangvoël Luna Paige en die baskitaarspeler Schalk Joubert tree Vrydag 5 Mei by die Blohmhuis-teater, die bekende sanger-liedjieskrywer en kunstenaar Jan Blohm se intieme teater by sy restaurantgalery in Michaustraat, Strand, op.

Paige bring haar veelsydige repertoire en die staaltjies agter haar liedjies na die plaaslike verhoog. Sy skryf sedert 1999 liedjies oor lief en leed. Met vyf albums (in Engels én Afrikaans), ’n reeks enkelsnitte en ’n versameling materiaal uit spesiale musiekteaterproduksies op haar kerfstok, beloof Paige se vertoning om musiekliefhebbers te beïndruk. Sy sal gehore bekoor – veral met haar vernuf om stories te vertel, haar vermoë om menslike ervarings in woord en melodie vas te vang en by tye haar vermoë om tong-in-die-kies-kommentaar op sosiale kwessies te lewer.

Paige geniet dit ook om inspirasie uit letterkunde en die rolprentbedryf te put. Verskeie van haar liedjies het hul oorsprong in literêre werke, TV-reekse of flieks gevind. Sy begelei haarself op elektriese klavier sowel as akoestiese kitaar, wat haar in staat stel om met verskillende musiekstyle te speel.

Paige maak al sedert 1999 saam met Joubert musiek. Hul musikale reis van 24 jaar het hulle die kans gegun om op klein en groot verhoë oor die land heen en in Mosambiek en Nederland op te tree. Kom bederf jouself met ’n aand waar musiek doen wat dit moet – die hartsnare pluk en die lagspiere prikkel. Kaartjies kos R175 elk. Die vertoning begin om 18:30. Vir bespre­kings, besoek www.quicket.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article