Ná ’n uitgerekte hofstryd het geregtigheid uiteindelik vir ’n jong verkragtingslagoffer geseëvier nadat haar aanvallers uiteindelik aan die pen gery het.
Twee mans van Grabouw – Koos Kerneels (53) en Gerald Jacobs (44) – is agter tralies nadat hulle vyf jaar gelede ’n 27-jarige voetganger geteiken het en op aanklagte van verkragting aangekeer is.
Kerneels en Jacobs het die Libanon-inwoner langs die pad raakgeloop terwyl sy op 15 Desember 2017 omstreeks 22:35 huis toe gestap het. Die mans het die vrou, wat hulle vir ’n aansteker genader het, na ’n agterplaaswoning in die omgewing gelok waar hulle haar gyselaar gehou het. Kerneels het die vrou beveel om haar klere uit te trek, en nadat sy geweier het, hom op haar afgedwing. Sy is oornag om die beurt deur die mans verkrag. Die slagoffer het die volgende oggend daarin geslaag om van haar aanvallers te ontsnap en na ’n familielid te vlug. Sy het met die nodige ondersteuning ’n klagte by die polisiekantoor aanhangig gemaak en mediese behandeling by die Helderberg-hospitaal ontvang.
Kerneels en Jacobs, wat toe onderskeidelik 48 en 39 jaar oud was, is op aanklag van verkragting in hegtenis geneem. Hoewel Jacobs as medepligtige skuldig bekend en in 2018 in die Strand-streekhof tot 18 jaar direkte tronkstraf gevonnis is, het Kerneels skuld ontken.
Die saak is gevolglik in die Somerset-Wes-streekhof verhoor, waar die beskuldigde uiteindelik skuldig bevind en Maandag 19 Junie tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is.
Volgens kapt. Francois Boer van die Caledon-polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS), wie se intensiewe ondersoek en bewyse vir ’n sterk saak uiteindelik tot die vonnisoplegging gelei het, is hy tevrede met die hofuitslag.
“Lewenslank is ’n goeie vonnis – veral omdat Kerneels skuld ontken het,” meen Boer.
Die provinsie se polisiebestuur het die ondersoekbeampte bedank vir die harde werk wat hy in sy ondersoek gedoen het en bygevoeg dat die veiligheid van vroue en kinders ’n topprioriteit van die Wes-Kaapse polisie bly.


