Beamptes van die provinsiale verkeersdepartement het talle mense in die Helderberg-kom en omgewing weens dwelmoortredings in hegtenis geneem.

In die eerste geval is ’n voertuig op Saterdag 30 Julie op die R406 naby Genadendal voorgekeer en deurgesoek. Die beampte het 188 pakkies dagga, wat omtrent R10 000 werd is, ontdek. Die bestuurder is op die toneel in hegtenis geneem.

In nog ’n voorval het ’n provinsiale verkeersbeampte ’n voertuig tussen Sir Lowry’s Pass en Grabouw voorgekeer en deurgesoek. Die bestuurder was nie net onder die invloed van alkohol nie, maar die beampte het ook ’n sak Mandrax in die voertuig gekry. Al drie insittendes is in hegtenis geneem.

In ’n derde voorval is twee mense by ’n padblokkade naby Somerset-Wes weens die besit van 32 eenhede kokaïen gearresteer. “Ek prys die beamptes vir hul werk om te help keer dat paaie gebruik word om onwettige dwelms te vervoer. Hul werk verseker dat beslag gelê word op dwelms voordat dit by ons gemeenskappe kom en gesinne verwoes,” sê Daylin Mitchell, die Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article