Gwendoline Losper met ’n foto van haar vermoorde seun, Shakier. Foto: Rick Marais


Die ma van ’n jongman wat in Erijaville vermoor is, beskryf sy wrede dood as ’n raaisel wat sy nog self probeer oplos.

Drie verdagtes is kort ná Shakier Losper se moord verlede Sondag (27 Maart) vrygelaat omdat die polisie te min bewyse in die saak het.

Volgens adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, is Losper Sondagoggend in die vroeë ure met ’n mes in die gemeenskap aangeval. Hy het later in Helderberg-hospitaal aan sy wonde beswyk (“Crime snippets,” DistriksPos, Donderdag 31 Maart).

Luidens ’n polisieverslag het die noodlottige voorval omstreeks 04:30 in Fredericksstraat plaasgevind terwyl Losper saam met twee vriende ’n ander weggesien het.

“Die oorledene het [’n verdagte] en haar kêrel raakgeloop en ’n stryery oor die 28-bendes het tussen die twee jongmans ontstaan,” het Beukes gesê.

Beukes het verder gesê Losper se vriende, wat toe al besig was om huiswaarts te keer, het gesien hoe hy vol bloed na hulle toe aangehardloop kom.

“Losper het aan sy vriende vertel dat die verdagte hom in die bors gesteek het. Hy is met wonde na die hospitaal geneem, waar hy later dood verklaar is.”

Die 25-jarige meisie en haar 31-jarige kêrel is kort ná die voorval op ’n aanklag van moord in hegtenis geneem, maar is later vrygelaat omdat die polisie glo te min bewyse gehad het om hulle verder aan te hou.

’n Derde verdagte, glo ’n familielid van die meisie wat in verband met die moord aangekeer is, is ook in hegtenis geneem nadat hy hom na bewering aan die polisie oorgegee het.

Hierbenewens is al drie moordverdagtes op vrye voet, het Beukes bevestig. “Voldoende bewyse word nou ingesamel, wat sal bydra tot die vervolging van die verdagtes,” het Beukes gesê.

“Die saak sal later weer op die hofrol geplaas word.”

Niklaas Thysen van Strand sê die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is van mening dat die misdaadtoneel van die begin af nie behoorlik bestuur is nie.

“Belangrike bewyse en leidrade is nie by die toneel versamel om die beskuldigdes se skuldigbevinding in die hof te laat geskied nie,” sê hy.

Dit volg kort nadat DistriksPos verlede week berig het lt.kol. Franklin Plaatjies dien nie meer as speurhoof vir die Strand-polisie nie. GPF-lede het hul ontevredenheid hieroor asook bekommernisse oor deeglike ondersoek deur ’n toegewyde speurder wat ’n vertrouensverhouding met die gemeenskap koester, uitgespreek (“Polisie laat bal val,” DistriksPos, Donderdag 31 Maart).

Volgens Thysen het die polisie verder ’n fout begaan nadat die ondersoekbeampte glo nagelaat het om belangrike getuies te ondervra.

“Die moorddossier is sonder enige deeglike ondersoekwerk na die staatsaanklaer aangestuur aangesien die beskuldigdes nie vir sewe dae in aanhouding was vir al die ondervragings nie. Ons as GPF spreek ons ongelukkigheid en ontevredenheid uit met die ondersoek,” het Thysen aangevoer.

Die gemeenskapsleier is ook van mening dat die Strand-polisie se nuwe speurhoof die bedroefde familie eers ná ’n groot gesoebat en gesmeek besoek het.

Die Strand-GPF se versoek aan die polisiebestuur is dat die ondersoekbeamptes meer proaktief moet optree en dat elke misdaadtoneel asook die klaers met die nodige sensitiwiteit hanteer moet word.

Losper se ma, Gwendoline, het haar 22-jarige seun as ’n gehoorsame kind beskryf. Oral in haar huis in Erijaville is foto’s van haar geliefde kind wie se verlies ’n groot leemte laat.

“Hy was ’n vredeliewende kind wat niemand enige kwaad sou aandoen nie. Sy groot droom was om ’n polisieman te word,” het sy meegedeel.

Losper word oorleef deur sy ma en drie sibbe. Hy was die tweede jongste en is altyd as “die stil middelkind” beskou.

’n Roudiens vir Losper word Saterdagoggend om agtuur by die Bethesda-kerk in Storkstraat, Broadlandspark, gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article