Perlemoen met ’n beraamde straatwaarde van R180 000 is Saterdag (10 Desember) in ’n voertuig in Gordonsbaai ontdek.
Die voertuig wat perlemoen vervoer het, is omstreeks 20:00 gevind met die verdagtes wat voor die lang arm van die gereg ontsnap het.
Heyns de Waal van Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.) het bevestig dat veiligheidsbeamptes ’n voertuig, ’n Ford Focus met perlemoen naby Ooskus Fisheries in Wattstraat voorgekeer het.
Volgens ’n bron, wat nou saam met Gordonsbaai-polisie werk, was nog ’n voertuig, wat agter die Ford gery het, betrokke. Die perlemoen was in dié voertuig versteek.
“Die twee voertuie het so naby agter mekaar gery dat hulle amper ’n botsing veroorsaak het. Een voertuig het in die rigting van Kleinmond ontsnap terwyl die Ford in Kloofstraat aan die bergkant van Gordonsbaai vasgekeer is,” vertel die bron.
Die verdagtes het die voertuig net so gelos en te voet gevlug, waarna die polisie sakke met perlemoen in die voertuig ontdek het. Gordonsbaai-polisie het verdere kommentaar oor die saak van die hand gewys omdat die ondersoek in ’n sensitiewe stadium is.



