Lede van die teen-bende-eenheid, die honde-eenheid en plaaslike polisiebeamptes het die afgelope Donderdag (21 Maart) in ’n optrede in Strand aan ’n klopjag deelgeneem, wat gelei het tot drie inhegtenisnemings en twee vuurwapens wat uit die strate verwyder is.
AO Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig drie manlike verdagtes is vir die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die onwettige en ongelisensieerde loop van ’n vuurwapen in hegtenis geneem.
Die eerste verdagte, ’n 54-jarige man van Rusthof, is Donderdag (21 Maart) in die vroeë oggendure – omstreeks 04:20 – deur ’n polisiebeampte in hegtenis geneem nadat ’n vuurwapen in sy woning gekry is.
Die tweede verdagte, ’n 28-jarige man, is in Libertystraat omstreeks 05:00 aangekeer toe die loop van ’n vuurwapen in ’n sandput naby sy woning gevind is.
Beukes het verder bevestig die derde verdagte, ’n 29-jarige man, is vasgetrek nadat die polisie op ’n woning in Abrahamslaan sowat 15 minute nadat die vorige verdagte vasgetrek is, toegeslaan het. Dié verdagte het aan die polisie gesê ’n vuurwapen is in ’n bruin papiersak weggesteek. Die polisie het op die wapen beslag gelê en die verdagte is in hegtenis geneem.
Beukes het afgesluit en verder bevestig al drie verdagtes het Maandag (25 Maart) die eerste keer in die Strand-landdroshof verskyn.



