Shakier Losper het sy lewe op 27 Maart verloor.


Twee verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat hulle ’n jongman na bewering met ’n mes doodgesteek het, is Maandag (25 April) op borgtog vrygelaat.

Die Strand- gemeenskapspolisiërings­forum (GPF) het onlangs sy stem dik gemaak en standpunt ingeneem dat die orga­nisasie die twee verdagtes, wat sibbe is, se borgtog teenstaan (“GPF teen sibbe se borgtog,” DistriksPos, 21 April). Die verdagtes het vermoe­delik vir Shakier Losper (22) Sondag 27 Maart in Erijaville vermoor.

Die verdagtes het vir aanranding met die doel om ernstig te beseer asook moord in die hof verskyn. Die sake is samelopend.

Adjudant-offisier Nico Beukes, ’n woordvoerder van die Strand-polisie, het bevestig die twee se borgtog is toegestaan.

Niklaas Thysen, Strand-GPF se woordvoerder, sê hy is teleurgesteld in die ondersoekbeampte, wat volgens hom glo nie sy werk deeglik gedoen het nie.

“As die ondersoekbeampte die familie en GPF se insae gekry het, dan sou die verdagtes nie borgtog gekry het nie,” meen Thysen, wat aanvoer dat die ondersoekbeampte nie in verbinding met die Losper-gesin getree het nie.

“Die speurder moes die familie gaan sien en hy moes kontak maak met die GPF. Dis nooit gedoen nie en ek glo dis waarom die twee verdagtes op borgtog vrygelaat is.”

Gwendoline Losper, Shakier se ma, bevestig die familie het geen terugvoering oor die saak van die ondersoekbeampte gekry nie.

“My kind is weg, maar die ma van die twee verdagtes het steeds haar kinders. My kind is doodgemaak, hulle moes die verdagtes nie borgtog gegee het nie,” sê Losper.

Volgens Beukes mag die polisie nie kommentaar lewer op die hof se beslissings nie.

Hy noem wel dat die hof alle feite in ag geneem het en bepaal het dat die verdagtes aan die kriteria voldoen vir hul borgtog om toegestaan te word, omdat daar juis geen teenargumente was nie.

“Die Strand-GPF moes sy lot by die hof bekla het, sodat die borgtogaansoek heroorweeg kon word,” sê Beukes.

“Die onus berus nie by die polisie nie. Ons het wel klagtes oor die ondersoekbeampte ontvang en die stasiebestuur sal hierdie klagtes ondersoek. Ons wil die gemeenskap gerus stel dat ons na hul bekom­mernis­se en klagtes luister en dit die nodige aandag gee.”

Thysen het bevestig dat die GPF beplan om dringend met die stasiebevelvoerder, Kolonel Khunjulwa Khanyile, te vergarder om hul misnoeë uit te spreek.

Die moord saak is tot Donderdag 19 Mei uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article