’n 32-jarige-man van Strand is verlede week Sondag (16 Julie) vir poging tot moord in hegtenis geneem vir ’n voorval wat plaasgevind het op Vrydag 7 Julie.
AO Nico Beukes, woordvoerder van Strand-polisie het bevestig dat die gearresteerde persoon se naam Denver Pietersen is.
Op Vrydag (7 Julie) teen omstreeks 18:15 is ’n 40-jarige-man in Allen Boesak in Maswanastraat onkant gevang toe hy tuis kom ná hy glo sigarette gaan koop het.
“Toe die slagoffer by sy huis se agterdeur inkom, hoor hy stemme binne die huis. ’n Ooggetuie het gehoor hoe iemand vra ‘Is dit hy?’ en toe antwoord een van die verdagtes terug ‘Ja’,” vertel Beukes.
Volgens die polisie se verslag het Pietersen toe glo ’n vuurwapen uitgehaal het en ’n skoot afgevuur op die slagoffer.
“Kort hierna het die ooggetuie (nadat hy weggehardloop het) nog ’n skoot hoor afgaan. Ná die tweede skoot het hy vir Pietersen en nog ’n verdagte uit die huis sien stap asof niks gebeur het nie,” sê hy.
Die slagoffer wat drie skietwonde, een in die linker- voorarm, een in sy regterheup en een in sy maag, is na Helderberg-hospitaal gehaas vir mediese behandeling.
Strand-polisie het na die skietery twee 9mm rondtes op die toneel gevind.
Pietersen het reeds sy eerste verskyning by Strand-magistraatshof gemaak. Op dié stadium kan die polisie geen addisionele inligting oor die saak verskaf nie.



