Die April-gesin van Broadlandspark in Strand ly die hartverskeurende verlies van hul geliefde Cheslin, wat weens ’n bendeskietery gesterf het. Die skietvoorval het Saterdagmiddag (19 November) in Sercor-rylaan afgespeel toe die gesin in hul motor op pad was huis toe nadat hulle vir die dag uitgery het. ’n Dwaalkoeël het in die straat deur die motor gevlieg en die sesjarige wat agter saam met sy sibbe gesit het in die kop getref. Die traumatiese voorval wat Cheslin geëis het, het ten aanskoue van sy pa, Charles, ma, Audrey, en sibbe, Charlton (14), Cheswin (vyf) en Chesniqwin (twee) afgespeel.Foto’s: Jamey Gordon


’n Donker wolk hang oor die Strand-gemeenskap ná die verlies van twee jong lewens wat deur geweld kortgeknip is.

Die berugte Broadlandspark wat eindeloos gebuk gaan onder bendeverwante skietvoorvalle en misdaad ly vandeesweek die verlies van ’n onskuldige kind wat die afgelope naweek in een van twee skietmoorde geëis is.

Cheslin April, die sesjarige seun van ’n plaaslike polisiebeampte, het Saterdag (19 November) sy engelvlerkies gekry toe die motor waarin hy en sy gesin op pad huis toe was na bewering in die spervuur van ’n vermeende bendeverwante skietgeveg beland het.

Die kleuter wat saam met sy drie sibbe agter in die voertuig gesit het, is na bewering deur ’n dwaalkoeël wat deur die voorruit gevlieg het, in die kop gewond. Hy het later in die hospitaal beswyk.

Die tragedie, wat skokgolwe deur die gemeenskap asook die breë Helderberg gestuur het, is voorafgegaan deur ’n gruvonds in ’n naburige woonbuurt vroeër dieselfde oggend (Saterdag).

Die lyk van ’n jongman is met skietwonde in ’n speelparkie in Casablanca ontdek. Luidens ’n polisieverslag is Strand-polisiebeamptes omstreeks 06:00 ná Saterdagoggend se beurtkrag na die toneel in Cassies-rylaan ontbied. Met hul aankoms is die slagoffer wat later geïdentifiseer is as Andrew Alberts (32) van Casablanca met twee sigbare skietwonde aan die gesig aangetref. Die polisie het ook op twee leë patroondoppies beslag gelê wat op die toneel gevind is.

Alberts se suster, Margo Daniels (48), het haar skok oor haar broer se moord uitgespreek en gesê hulle sukkel met die werklikheid veral omdat hy nie by bendes betrokke was nie en ook nie ’n misdadiger wat ander sou seermaak, beroof of besteel nie. “Hy het wel ’n dwelmgewoonte gehad, maar het altyd gewerk vir wat hy wou hê of benodig,” het sy gesê.

Daniels het verder meegedeel dat sy sedert hul ma se dood toe haar broer slegs 16 was vir hom gesorg het.

Alberts het aan fetale alkoholsindroom gely en was glo permanent afhanklik. Weens sy lewensuitdagings het hy nie van vastigheid gehou nie en hoewel sy suster met behulp van ’n toelaag na hom omgesien het, het hy sy voete onder verskeie familielede wat hom verstaan het, se tafel ingesteek.

Daniels het voorts vertel dat sy kort voor 06:00 Saterdag na die toneel ontbied is waar sy Alberts, wat bekendgestaan het as “Ballie”, aangetref het.

“Hy sal onthou word vir sy behulpsaamheid en gewilligheid waarvan baie ander kan getuig,” het Daniels gesê.

’n Begrafnisdiens vir Alberts, wat oorleef word deur Daniels en ’n 41-jarige broer, vind komende Saterdag (26 November) plaas.

’n Strand-polisiewoordvoerder het bevestig dat hulle ’n verdagte in verband met Alberts se skietmoord verdink, maar dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

’n Verdagte is wel in verband met die moord op April in hegtenis geneem.

Die verdagte (23) is danksy ondersoekwerk kort ná die bendeskietery wat om 12:58 Saterdag in Sercor-rylaan ontstaan het, aangekeer.

Daar is ook op ’n vuurwapen beslag gelê wat vermoedelik in die voorval gebruik is. Dit is vir ballistiese toetse gestuur.

Die verdagte, wat glo ten tyde van die skietgeveg uit was op borgtog in ’n saak van poging tot moord en veronderstel was om in Bredasdorp te wees, het Maandag op aanklag van moord in die Strand-landdroshof verskyn. Die saak is tot Vrydag 13 Januarie uitgestel.

April se bedroefde ma, Audrey, het met ’n besoek aan hul Broadlandspark-tuiste aan DistriksPos en Helderberg Gazette gesê dat sy danksy gebed geen wrok in haar hart teenoor die misdadigers koester nie, maar sy sukkel wel om die tragedie wat ten aanskoue van haar en haar jong kinders afgespeel het, te verwerk.

“Dis moeilik en dis seer,” het sy onder trane gesê. “Die dood is wel ’n werklikheid, maar die toneel wat voor ons afgespeel het, is ’n nagmerrie wat by my spook.”

Die ouer het herroep dat hul gesin op pad huis toe was nadat hulle vir die dag uitgery het. Haar eggenoot, Charles, wat as adjudant-offisier by Lwandle-polisiekantoor werk, het op ’n vorige geleentheid herroep dat hy weens ’n beroering in Bosduifstraat en om veiligheidsredes besluit het om deur Sercor-rylaan by hul huis in Finkstraat uit te kom (“Skiettragedie: Sesjarige seuntjie in motor getref ná gesin terugkeer van uitstappie”, Netwerk24, 20 November).

Maar, toe hy die straat ingaan, het hul voertuig in die middel van ’n vermeende skietgeveg tussen twee mededingende bendelede beland en ’n teiken geword. Die 44-jarige pa het onmiddellik agteruit gery, terug na Bosduifstraat, toe ’n koeël die voorruit van hul wit Toyota Avanza deurboor en Cheslin, wat agter die bestuurdersitplek gesit het, in die kop tref.

Albei ouers was aanvanklik met die harde slag onder die indruk dat die motor met ’n voorwerp raakgegooi is totdat Audrey die lood van die vuurwapen nadat ’n skoot afgevuur is, geruik het.

“Toe ek terugkyk, sien ek bloed weerskante uit Cheslin se kop spuit. Ek het vir my man geskree, ‘Cheslin is geskiet’,” het die ma van vier gesê.

“Die prentjie was nie mooi nie. My dogtertjie wat langsaan Cheslin gesit het, was bedek met bloed. Ek moes met hulp van my oudste seun drukking op die wonde plaas. Maar, dit was tevergeefs, want met pogings om die bloeding te stop, het dit net by sy mond uitgestroom. En, maak nie saak hoe hy sigbaar om sy lewe geveg het nie, moes ons magteloos toekyk en vir die onvermydelike wag. ‘Chessie, Mammie is hier, by jou’ is al wat ek herhaaldelik aan hom gesê het totdat hy later in die hospitaal beswyk het. My kind is weg en niks gaan hom terugbring nie, ek aanvaar dit. Maar, die wyse kan ek nie verwerk nie.”

Audrey voeg by dat sy Maandag (21 November) oudergewoonte vir Cheslin ’n broodjie vir skool voorberei het en dit eers besef het toe sy dit in sy kosblikkie sit. “Chessie is by Liewe Jesus om verder Sy werk te doen,” moet sy dikwels aan haar twee jongstes verduidelik met vrae oor hoekom hul geliefde broer nie weer huis toe sal kom nie.

’n Roudiens vir Cheslin is Maandagaand by sy ouerhuis gehou en begrafnisreëlings word vir hierdie Saterdag getref. Volgens Audrey sal hy moontlik uit die skoolsaal van Dr. G.J. Joubert Primêre Skool waar hy in gr. R was en volgende jaar sy eerste skooljaar sou aanpak, begrawe word.

Hoewel albei moordsake deur die provinsiale polisie se teen-bende-eenheid ondersoek word, het Strand-polisie se speurtakbevelvoerder, luit.-kol. Franklin Plaatjies, in die lig van die voorval gesê beamptes op plaaslike vlak maak dit hul prioriteit om misdaadvoorvalle so volledig as moontlik te ondersoek; om eerder te ondersoek om in hegtenis te neem en sukses te verseker as om iemand in hegtenis te neem vir verdere ondersoek wat dikwels ’n saak kan belemmer.

“Ons werk ook daaraan om die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en die polisie te versterk,” sê Plaatjies wat sedert die begin van die maand (Dinsdag 1 November) weer as ’n wapen dien in die Strand-polisie se arsenaal om bendeverwante misdade, veral in Broadlandspark, te bestry.

Die toegewyde, pligsgetroue speurhoof se terugkeer volg nadat hy in Maart as tydelike diensreëling by ’n informele nedersetting in Khayelitsha herontplooi is.

Zorah Motasi, voorsitter van die Vroue in Aksie-beweging wat bendeverwante misdrywe beveg en ondersteuning bied aan ma’s wat kinders aan bendegeweld of ’n bende verloor het, het gesê nuus oor die bendeskietery het hulle glad nie verbaas nie, maar hulle is wel geskok dat ’n kwesbare lewe in die spervuur geëis is.

“Die bendes gee nie meer om nie. Hul misdrywe die afgelope jaar is bewys dat hulle geen respek vir die gemeenskap, die gereg of ander se reg op lewe het nie. Die situasie in ons gemeenskap is vir ’n geruime tyd al buite beheer. Die polisie het lankal die stryd teen bendes verloor. Die vraag is nou, wanneer gaan die gemeenskap die moed hê om terug te veg en te sê genoeg is genoeg,” het sy gevra.

Volgens Motasi is die verlies van Cheslin en Alberts ’n teken dat niemand meer veilig is nie en meer en meer onskuldiges weens bendegeweld en dwelmverwante misdade sterf.

Motasi het bygevoeg dat die beweging sy ondersteuning aan die families van die slagoffers bied en hulle in die moeilike tyd bystaan.

“As moeders en aktiviste wat glo aan ons beweging se slagspreuk, ‘Jou kind is my kind, en my kind is jou kind’ het die skietmoorde ons diep aangeraak.”

Jannie Frieslaar, voorsitter van die Strand-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die gemeenskap se behoefte aan meer sigbare polisiëring deur owerhede om die toenemende bende- en dwelmverwante misdrywe te beveg, beklemtoon.

Frieslaar het ook ’n beroep op ouers gedoen om waaksaam te wees vir gevaartekens wat aandui dat kinders by sulke misdrywe betrokke is.

“Indien ons die probleem wil hokslaan, moet ouers uitpraat teen sulke betrokkenheid,” het Frieslaar aangevoer.

Hy het voorts meegedeel die GPF het hande geneem met verskeie misdaadbestryders insluitend owerhede om veiligheid in die gemeenskap te bevorder met meer patrollies, veral in die feestyd. Die GPF het ook sy bande met die plaaslike hof versterk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article