Die 55-jarige verdagte wat in verband met die verdwyning van ‘n plaaslike tiener in hegtenis geneem is en aanklagte van ontvoering en verkragting in die gesig staar, het hom die afgelope Dinsdag (12 Augustus) weer in die beskuldigdebank in die Strand-landdroshof bevind.
Die saak is met sy hofverskyning tot Maandag 27 Oktober uitgestel en die verdagte is op borgtog van R1 000 vrygelaat.
Sy inhegtenisneming volg nadat ‘n vermiste tienermeisie verlede maand opgespoor is (“Tiener ná ontvoering gekry,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 6 Augustus).
Die meisie is veilig gevind nadat sosialemedia-beroepe om hulp die gemeenskap gemobiliseer het.
Die meisie is Dinsdag 22 Julie deur lede van die publiek in Gordonsbaai-weg aangetref en na die Strand-polisiekantoor gebring, waar sy sigbaar getraumatiseerd en verward gelyk het.
Die verdagte, ‘n 55-jarige man, is vroeër vandeesmaand (Vrydag 1 Augustus) in hegtenis geneem nadat die tiener beweer het sy is na ‘n plek gelok onder die voorwendsel dat sy daar kon rus.
Sy is hier glo vasgebind en aangerand voordat sy ontsnap het.
Die Khayelitsha-polisie se eenheid vir gesinsgeweld ondersoek die saak.
– Jamey Gordon


