’n Plaaslike paartjie is ongedeerd nadat hul voertuig in ’n beweerde fratsongeluk in die rivier beland het.
Die voorval het verlede Donderdag (25 Augustus) gebeur toe die dubbelkajuitbakkie na bewering van die wal af gegly en in die Lourensrivier tussen Victoria-pad in Somerset-Wes en De Ruyter-weg in Goedehoop, Strand, geploeg het.
Nooddienste, asook die gewapendereaksielede van Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), het op die voorval gereageer.
Volgens een van die insittendes, ’n 35-jarige man wat anoniem met die koerant gepraat het, het hy en sy vrou omstreeks 18:00 die ongelyke terrein oorkant die rivier in hul Volkswagen Amarok aangedurf en ’n roete gery om ondersoek in stel ná gerugte dat verdagte mense soms onder die bome in die omgewing slaap.
“Terwyl ons naby die wal gery het, het ’n stuk grond wat nat en sag was onder die voertuig uitgesak,” het hy vertel. “Ons het geskrik, want ons het dit nie verwag nie.”
Ná mislukte pogings om te keer dat die voertuig onder die water verdwyn, het die insittendes daarin geslaag om die bakkie, wat deur die stroom meegesleur is en byna heeltemal ondergedompel was, op die nippertjie te ontruim. Die paartjie het tot by die wal na veiligheid gespartel en op hulp gewag.
Off-Road Rescue Unit (Orru) is ingespan vir die herwinning van die voertuig wat, volgens ’n woordvoerder, binne ’n uur ná die noodoproep met ’n wen-as uitgesleep is. Die eienaar vermoed die voertuig kan heel moontlik weens waterskade – veral aan die enjin – afgeskryf word.
Die toneel was Donderdagaand teen 21:00 opgeklaar.
“Ons is dankbaar dat ons leef,” het die eienaar gesê.



