Die wapens en ammunisie wat in die verdagte se besit gevind is.


’n Huisbraak by ’n klant se woning het ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy genoop om dieper te gaan delf na presies wat gebeur het, waarna hulle ontdek het een van hul eie was by die inbraak en diefstal van wapens betrokke.

Heyns de Waal, bedryfshoof van Gordonsbaai Sekuriteit (GBSek.), bevestig die veiligheidsbeampte is kort ná die inbraak Woensdag 3 Januarie summier afgedank nadat hy op die toneel was waar die vuurwapens gesteel is.

Hoewel die provinsiale polisiewoordvoerder sersant Wesley Twigg nie veel oor die saak wou uitbrei nie omdat die omstandighede oor die voorval deel is van die polisieondersoek, het hy bevestig ’n 49-jarige manlike verdagte is Saterdag 13 Januarie met gesteelde, onwettige vuurwapens in sy besit betrap en deur die polisie se teenbende-eenheid in hegtenis geneem. “Die teenbende-eenheid het ná ’n inbraak by ’n huis in Gordonsbaai inligting opgevolg en op ’n adres in Abattoirstraat, Strand, toegeslaan, waar hulle die woning deursoek en twee rewolwers en ’n pistool asook ammunisie gekry het.”

Van die vuurwapens wat tydens die inbraak in Januarie gebuit is, was deel van die vonds.

De Waal het bevestig die 31-jarige GBSek.-werknemer, wat op die toneel was, is afgedank. Hy het bygevoeg danksy die Gordonsbaai-polisie se puik speurwerk is ’n 49-jarige-verdagte kort ná die inbraak aangekeer. De Waal het inligting in beeldmateriaal bekom van ’n voertuig wat op die toneel gesien is en dit aan die speurders gegee.

“Ons het besef iets is nie pluis nie toe die regte protokol nie gevolg is nie. Daar is by ’n gedeelte van een van ons klante se huis ingebreek waar daar nie ’n alarm was nie. Ná sulke gevalle moet ons daar gaan draai om ’n verslag vir die versekeringsmaatskappy te skryf. Ek het ’n verdagte voertuig op beeldmateriaal gesien en later het ons vasgestel dat die eienaar ons voormalige werknemer se neef is. Ons het al die inligting net so aan die polisie oorhandig.”

De Waal het GBSek. en veral sy werknemers se skok oor die voorval uitgespreek, veral omdat dit juis hul missie is om misdaad te bestry. “Ons vermoed die vuurwapens is gesteel om vir dwelmgeld verkoop te word. Ons het die werknemer van ons aan die begin en einde van September vir die gebruik van dwelms getoets en albei kere het die toets negatief teruggekom. Ons het die toetse gedoen omdat hy geld by van sy ander kollegas geleen het en ons vermoed het dat hy moontlik die geld vir dwelms gebruik het, maar hy is elke keer negatief getoets. Ons volg altyd die korrekte keuring-prosedures met al ons werknemers, en die wag het die afgelope drie jaar vir ons gewerk en ’n baie goeie rekord gehad met ’n paar goeie inhegtenisnemings tot sy krediet. Ons kan dus nie voorspel dat iemand wat nie ’n misdadiger is wanneer hy aansoek doen, so gaan bly nie. Die meeste van ons werknemers woon in dieselfde gemeenskappe as wat hulle bedien, en dit is dikwels gemeenskappe waar dwelms oorheers,” vertel De Waal.

Hy sê in die maatskappy se 24-jarige bestaan is dit die heel eerste keer dat so iets gebeur dat ’n werknemer iets steel.

Inligting oor waar die vuurwapens versteek was in die huis waaruit dit gebuit is, is nog nie beskikbaar nie juis omdat die polisie nog besig is met hul ondersoek.

Die verdagte het verlede week Woensdag (17 Januarie) op aanklagte van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in die Strand-landdroshof verskyn. Die saak is Dinsdag (23 Januarie) hervat. Teen druktyd was daar nog geen inligting beskikbaar oor die volgende verskyningsdatum nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article