AO Desire Adendolf, ’n woordvoerder van die Macassar-polisie, laat haar bloeddruk deur ’n paramedikus neem. Foto: Rick Marais


Nooddienswerkers het Dinsdag 17 Oktober ter viering van Nasionale Emergency Medical Services (EMS)-dag in verskeie gebiede in die Wes-Kaap na gemeenskappe uitgereik om hulle te inspireer om met die nooddienste hande te vat.

’n Sessie is dieselfde dag in die parkeerterrein by die Shoprite-winkelsentrum in Macassar gehou, waar paramedici wat in die gebied werk, die geleentheid gekry het om die gemeenskap wat hulle bedien, te ontmoet.

Mark Petersen, die distriksbestuur­der van EMS se oostelike afdeling, wat Macassar insluit, sê die doel van die sessie verlede Dinsdag was om na die gemeenskap uit te reik.

“Ons het na die gemeenskap van Macassar uitgereik juis omdat so baie aanvalle al op ons paramedici plaasgevind het. Ons behandel almal met respek en dis hoekom ons die gemeenskap gevra het om hul handtekeninge op ’n groot bladsy te maak wat op ’n ambulans geplak is wat die gebied bedien. Met elkeen van daardie handtekeninge het die inwoners beloof om EMS se personeel te ondersteun en hul veiligheid te verseker,” sê Petersen.

Op die dag kon gemeenskapslede ook hul bloeddruk en suikervlakke gratis kom toets.

“Ons het die geleentheid gebruik om die gemeenskap bewus te maak van hul gesondheid. Indien enige van hulle se bloeddruk of suiker nie in die toets reg gelyk het nie, is hulle na ’n dokter verwys. Ons doen hierdie soort uitreiksessies twee keer per jaar,” voeg hy by. Die gesondheidsdepartement het genoem hulle is erg bekommerd oor die veiligheid van EMS-personeel wat deur mense in dieselfde gemeenskap aan wie hulle dienste moet lewer, aangeval word.

Die departement het uitgebrei dat in 2023 alleen al 37 voorvalle plaasgevind het en waardeur 60 van EMS se personeellede getraumatiseer gelaat is.

Felicity Solomons, ’n gemeenskapsaktivis, het EMS vir die dag bedank.

“Dis belangrik om dankie te sê vir ons paramedici. Ons gebied is baie gelukkig om ’n ambulans te hê wat net ons gebied bedien.

“Ek wil die gemeenskap aanmoedig om na ons ambulansmense se veiligheid,” om te sien,” brei Solomons uit.

Felicity Solomons, ’n gemeenskapsaktivis, wys haar steun vir EMS se personeel. Foto: Rick Marais

Bloeddruk- en suiker-toetse is by die sessie in Macassar gedoen. Foto: Rick Marais

Rochelle Stewart maak haar handtekening op die lys terwyl Mark Petersen (regs) die belangrikheid van elke handtekening beaam. Foto: Rick Marais

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article