Die familie van ’n jong seun van Macassar tel hul seëninge nadat hy wonderbaarlik ’n aanval deur die bure se veghond oorleef het.
Die 10-jarige Lee-Hago Willemse sterk tans tuis aan nadat hy op Vrydag 17 Mei byna deur die vierpotige vyand verskeur is. Die aanval het dié Vrydagmiddag in Koedoestraat, waar Lee-Hago na bewering buite sy huis saam met maatjies gespeel het, plaasgevind.
Volgens die slagoffer se ma, Mary-Ann, word daar verneem haar seun het saam met vriende oorkant hul huis in die pad tol gespeel toe iemand in die buurhuis hom na bewering gevra het om die agterdeur toe te maak. Die ouer vertel voorts dat dié persoon glo besig was om wasgoed op te hang toe haar seun die deur gaan toemaak het. “Dít was glo toe die hond hom agternakom,” vertel die 36-jarige ma. “Die hond het na bewering deur die huis agter hom aan gehardloop tot in die pad waar die aanval ten aanskoue van ’n skare wat op die toneel saamgedrom het, afgespeel het.”
Hond met plank bygedam
Mary-Ann vertel voorts hoewel mense wat toegekyk het om verstaanbare redes bang was om die “gevaarlike” hond wat haar seun aan die lyf beetgehad het, te probeer verwilder, het een van die bure – wat ook pitbull-terriërs het – die moed bymekaargeskraap en die hond met ’n plank bygedam om Lee-Hago uit sy kake te bevry. Die hond het die weerlose slagoffer verskeie kere aan die bene gebyt en ook sy tande in die seun se linkerboud ingeslaan.
Met Willemse se aankoms het sy haar bebloede kind, wat geskreeu het van die pyn, in die voorhuis van hul woning aangetref. Haar 63-jarige ma het die ambulansdienste ontbied en solank die bloeding probeer stop. Aangesien die nooddienste se reaksie op die voorval glo traag was, het ’n buurman hulle intussen na die plaaslike brandweerstasie vir mediese hulp vervoer.
Volgens Jermaine Carelse, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brandweer-en-reddingsdienste, is die pasiënt om 17:10 na die Macassar-brandweerstasie gebring met veelvuldige wonde wat hy in die aanval opgedoen het. “Die bemanning van die brandweerstasie het die minderjarige behandel en teen 17:50 is hy per Metro EMS na die hospitaal vervoer,” het Carelse gesê.
“My hart was baie seer vir my kind,” het Mary-Ann gesê.
Lee-Hago is nadat hy die naweek in die hospitaal deurgebring het op Maandag 20 Mei ontslaan.
Onbeskryflike trauma
Die ouer het haar ongelukkigheid oor die aanval, wat haar seun byna sy lewe gekos het, uitgespreek. “Ek is nie gelukkig nie,” het sy herhaaldelik gesê.
Mary-Ann het uitgebrei dat haar seun weens die lewensbedreigende aanval ’n onbeskryflike trauma in die gesig staar en as ’n uitblinker aan Marvin Park Primêr kosbare skooltyd misloop.
Sy is ook diep ongelukkig omdat die bure glo sedert die aanval nog nooit uitgereik het na hulle nie en skynbaar geen berou toon nie.
“Ek wil hê eienaars van hierdie soort honde moet die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan om pitbulls aan te hou, besef en ter harte neem. Die aanval kon nie net my kind se lewe geëis het nie, maar met enige ander kind of mens gebeur het. Dit kon anders gewees het,” het sy aangevoer.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie is ’n 33-jarige verdagte op Vrydag 24 Mei in verband met die voorval in hegtenis geneem en dieselfde dag voor die hof gebring. Dit was nadat die voorval glo eers op Woensdag 22 Mei by die polisie aangemeld is. Die verdagte moes Dinsdag 28 Mei op aanklagte wat verband hou met die Wysigingswet op Dieresake in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.
Belinda Abraham, ’n kommunikasiebeampte vir die Cape of Good Hope-dierebeskermingsvereniging, sê die hond genaamd Piston is die Sondag (19 Mei) deur wetstoepassers by die DBV opgeneem. “Hy is deur sy eienaar oorgegee,” het Abraham gesê.
“Ongelukkig is die beste voorspeller van ’n dier se toekomstige gedrag hul gedrag in die verlede, en as ’n organisasie wat diere in nuwe tuistes plaas, kon ons Piston nie met ’n goeie gewete laat aanneem ná ’n aanval wat daartoe gelei het dat ’n kind erg beseer en in die hospitaal opgeneem is nie.
“Die mees verantwoordelike optrede was om Piston menslik van kant te maak.
“Ons is altyd diep hartseer oor voorvalle soos hierdie wat vermy kan word deur verantwoordelike troeteldiereienaarskap en die nakoming van die Stad Kaapstad se Diereaanhoudingsverordeninge.”



