Die Strandse toutrekker Nina Esterhuysen is in die Springbok-toutrekspan opgeneem en benodig geld om van Donderdag 31 Augustus tot Maandag 4 September in vanjaar se Wêreld-toutrekkampioenskap mee te ding.


Helderbergers kan hulle voorberei vir ’n goeie lagsessie wanneer die komediant Boesman (van Zyl), die Namakwalandse boereseun, ’n skreeusnaakse vertoning ten bate van behoeftige jong toutrekkers met ’n blink toekoms na die plaaslike verhoog bring.

Die grapjas en sy vele karakters is Saterdag 12 Augustus om 18:30 by die Helderberg-toutrekklub in aksie en die opbrengs van kaartjieverkope gaan aan bobaas-toutrekkers van die Kom, wat onlangs in die Springbok-toutrekspan opgeneem is en van Donderdag 31 Augustus tot Maandag 4 September in vanjaar se Wêreld-toutrekkampioenskap gaan meeding. Een van die spanlede is die 18-jarige Nina Esterhuysen van Strand, wat R45 000 benodig om haar reisgeld, verblyf en uitrusting te dek en haar deelname te verwesenlik.

“Ons as ouers is baie trots op haar vir al die harde werk wat sy insit en die vasberadenheid wat sy in elke oefening en kompetisie toon,” sê haar ma, Nikki.

“Toutrek is haar passie en dit is haar droom om haar land in Groen-en-Goud te verteenwoordig. Om ’n medalje huis toe te bring, sal die kersie op die koek wees.”

Volgens Nikki het haar dogter, sedert sy dié sport ses jaar gelede opgeneem het, nog net haar beste daaraan gewy. “Sy is destyds as graad-sewe-leerder genooi om te gaan kyk hoe die sport werk. Sy het onmiddellik verlief geraak daarop en baie nuwe vriende gemaak, wat haar as ’n slagoffer van boeliegedrag gehelp het om vertroue en geloof in haarself te herbou,” herroep Nikki, wat geweet het die gogga het gebyt toe Nina elke dag, ten spyte van siekte, wou gaan oefen en aan elke kompetisie wou deelneem.

Onder Nina se lang lys prestasies is vanjaar se onderskeie Westelike Provinsie-kompetisies, insluitend die WP/Wynlande-klubkompetisies in die Helderberg (15 April), Valsbaai (22 April en 3 Junie) en Brakkenjan (20 Mei). Nina het op 16 en 17 Junie in die SA klubkampioenskap uitgeblink, asook in die WP/Wynlande-streekkampioenskap op Saterdag 24 Junie, die toetskamp (in die Helderberg) op Saterdag 1 Julie, die Wes-Kaapse kampioenskap in Robertson op Saterdag 8 Julie en die SA kampioenskap in Bloemfontein op Vrydag 21 en Saterdag 22 Julie.

Volgens Nikki het dit Nina “harde werk, vasberadenheid en ’n aanhouer-wen-gemoed” geverg om hierdie nuwe hoogte in haar toutrek-loopbaan te bereik. Die talentvolle toutrekker se prestasies is bewys van haar mantra vir motivering, “As jy jou liggaam en gees in iets plaas, is daar geen keer dat jy jou doelwitte sal kan bereik nie.”

Dié ywerige lid van die Helderberg-toutrekklub se Disa-vrouespan skryf vier dae per week toe aan twee-uur-oefensessies met die kernfokus op algehele fiksheid en stamina. Nina put inspirasie by Zounica van der Merwe, een van haar spanlede, wat SA al verskeie kere verteenwoordig het en die sport ook op ’n jong ouderdom opgeneem het.

Nikki spoor Helderbergers aan om die geldinsamelinsgeleentheid te ondersteun. “Dit gaan hope pret, ontspanning en lekker lag, wat goeie medisyne vir die siel is, inhou. Ons vra die gemeenskap baie mooi om die atlete te ondersteun sodat hulle hul drome kan bewaarheid en Suid-Afrika se vlag kan laat wapper.”

Vir Nina beteken almal se ondersteuning die wêreld. “Dit help my om my doelwitte te bereik en my land en sport trots te maak. Aan almal wat dalk dink hulle is nie goed genoeg om hul drome te verwesenlik nie – julle kan dit doen met harde werk en baie vasberadenheid en nooit moed opgee nie. Die belangrikste is om te geniet wat jy doen en om God aan jou sy te hê,” sê sy.. Vir kaartjies, bel Merieka by 082 339 4341. Die kaartjies kos R170 en sluit ’n watertandlekker hamburger in.

Nina het ook ’n Back-a-Buddy-blad waardeur mense geld kan skenk. Besoek https://www.backabuddy.co.za/champion/project/nina-esterhuysen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article