Leerders van Valsbaai Primêr gaan met die skooljaar, wat vandag begin, die geleentheid kry om hul jaar in splinternuwe geboue van baksteen in te lui nadat hulle vir jare in mobiele klaskamers onderrig ontvang het.
Groot opgewondenheid het verlede Woensdag (10 Januarie) in die lug gehang by die openingseremonie van die nuwe geboue van Valsbaai Primêr, ’n skool wat tot onlangs met mobiele klaskamers oor die weg moes kom. Die lint-knip-seremonie was ’n mengsel van opwinding en voorspoed toe die skoolhoof die sleutels vir die nuwe geboue wat die skoolsaal, klaskamers en ’n groot kombuis huisves, ontvang het.
Gaste en personeel het by die openingseremonie by die splinternuwe terrein angstig gewag dat die lint geknip kan word en hulle uiteindelik kon sien hoe die binnekant van die nuwe geboue lyk. Die gaste kon ongelukkig nie op die dag ’n toer van die geboue doen nie aangesien die inspekteur nog sy rondes moes kom doen voordat dit kon gebeur.
Die seremonie is deur Valsbaai Primêr se trompoppies ingelui, wat ’n pragtige dansoptrede gelewer het voordat die formele deel van die dag begin het.
Desmond Engelbrecht, die hoof van Valsbaai Primêre Skool, het almal verwelkom en sy personeel en almal wat die projek moontlik gemaak het, bedank. “Ons gaan ons beste by die skool doen en lewer, want die gemeenskap verdien dit.”
Die wyk 109-raadslid Peter Helfrich deel die sentiment dat die gemeenskap verheug is oor die nuwe geboue en die toekoms van die skool. “Die gemeenskap is baie bly oor die verbeterings wat die Wes-Kaapse regering aangebring het. Die inisiatief om die skool op te gradeer, dui op die toewyding om ’n beter toekoms vir ons kinders te bou. Die gemeenskap besef die nuwe skoolgeboue hou langtermyndoelwitte vir die leerders en die breër gemeenskap in,” sê Helfrich.
Rhoda-Ann Bazier, ’n gemeenskapsaktivis in die gebied, stem ook saam – die nuwe geboue en die groter kapasiteit van die skool beteken baie vir die gemeenskap. “Die skool se mobiele klaskamers word nou met baksteengeboue vervang. Baie kinders van die onderdorp gaan na dié skool omdat hulle nie plek by ander skole gekry het nie. Die groter skool en nuwe geboue is soos nuwe klere en skoene – almal wil dit hê, maar nie almal kan dit kry nie. Dieselfde geld vir die skool, wat ongelukkig net ’n sekere aantal leerders sal kan ontvang,” sê sy.
Shaygan Samuels van Emcon Construction, wat die nuwe geboue by die skool opgerig het, sê die skool het nou 55 klaskamers, en wanneer al twee die fases voltooi is, sal die skool 6 030 vierkante meter groot wees.
“Ons het vandag fase een oorhandig. Die leerders gaan binnekort na die nuwe geboue verskuif sodat ons met fase twee van die projek kan begin. Dit sluit die sportvelde in. Ons beoog om die tweede fase teen die einde van April te voltooi. Dié fase sluit ook die grootste deel van die munisipale dienste se installasies in,” sê Samuels.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het bespiegeling uit die weg geruim dat die skool se naam moontlik kan verander en genoem só ’n voorstel sal van die skool se beheerliggaam moet kom, maar tot nou het die WKOD geen sulke voorstelle ontvang nie. “Die skool gaan nou 46 standaard klaskamers en agt spesialis-klaskamers hê. Die nuwe geboue sluit ’n multi-media-sentrum, wetenskap- laboratoriums, ’n leerder-ondersteuningskamer, ’n saal en ’n kombuis in. Die nuwe skool se koste beloop ongeveer R76 miljoen,” voeg sy by.
Sy noem ook leerder-syfers vir die skool sal eers ná ’n tien-dae-blitspeiling bevestig kan word.
“Die 26 mobiele klaskamers waaruit die skool voorheen bestaan het, het verlede jaar ongeveer 1 260 leerders bedien. Hierdie aantal leerders sal na verwagting in 2024 toeneem weens die bykomende kapasiteit van klaskamers wat beskikbaar is.”



