Katy Arendse, ’n gemeenskapsweldoener, hou die titelakte vir haar huis in Rusthof in haar hande. Aan weerskante van haar staan die raadslede Sean Stacey (links) en Chantal Cerfontein. Foto: Rick Marais


’n Huis se titelakte gee waardigheid, dit gee ’n nuut gevestigde hoop en dit maak nuwe deure oop.

Altesaam 27 inwoners van Wyk 85 het verlede Woensdag (16 Augustus) die titelaktes van hul huis op ’n prestige-geselligheid by die Krystal Beach-hotel in Gordonsbaai ontvang. Sommige van die inwoners wag al langer as 50 jaar vir die huis-titelaktes.

Amptenare van die Stad Kaapstad het agter die skerms hard gewerk om die toekomstige eienaars van die huise se dokumente in orde te kry. Die raadslede Sean Stacey van Wyk 100 en Chantal Cerfontein van Wyk 85 het die gaste verwelkom en hulle ingelig dat hulle sou binnekort die amptelike titelaktes van hul huise in hul eie hande kon hou.

“Die begunstigdes van die huise kon aktes vir hul huis kry, wat dit ’n tasbare bate maak. Die huise gee hulle toegang tot nuwe geleenthede,” het Stacey verduidelik.

Cerfontein, die voorsitter van subraad 8 en die Wyk 85-raadslid, het gesê al die ontvangers van die titelaktes woon in raadshuise wat tussen Eerste en 12de Straat in Rusthof geleë is.

“Dit was ’n emosionele ervaring om die uitnodigings te gaan uitdeel en om aan elkeen van die ontvangers te noem dat hulle binnekort aktes vir hul huis sal ontvang. Dit gee die mense nou die opsie om bouplanne te laat opstel en die huise te vergroot,” het Cerfontein verduidelik.

Een van die ontvangers, Alida Swartz, wat al langer as vyf dekades in dieselfde huis woon en daagliks gehoop en gebid het om die titelakte vir haar huis te ontvang, was verheug toe sy die goeie nuus kry.

“Dit was ’n oorweldigende gevoel. Ek is 79 jaar oud en ek bly al 52 jaar in daardie huis van my. Ek het groot planne vir my huis. Ek wil ’n badkamer in my huis bou,” het Swartz vertel.

Katy Arendse, ’n gemeenskapsweldoener wat die Maranatha-sopkombuis in Erijaville bestuur, het ook ’n titelakte vir haar huis ontvang.

“Ek het aan die raadslid genoem ek wou eers daardie akte sien voordat ek dit glo. Ek woon al meer as 30 jaar in my huis, so hierdie is die beste geskenk nog,” het Arendse afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article