Voornemende Maties het net tot Vrydag 30 Junie tyd om aansoek te doen om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer.
Dit is ook die sperdatum om aansoek te doen vir verblyf in een van die koshuise.
Die US word as een van die beste drie universiteite in Suid-Afrika beskou en het onlangs sy posisie op die QS-wêrelduniversiteitranglys vir 2017-’18 verbeter. Die universiteit het ook die hoogste eerstejaar-deurvloeikoers in die land, met meer as 85% studente wat jaarliks na hul tweede jaar van studie vorder.
“Ons is baie opgewonde oor die toename in die hoeveelheid aansoeke vir 2018 wat bewys dat die US ’n voorkeuruniversiteit vir baie is. Ons is besorg oor die meer as 8 000 aansoeke wat nie oorweeg kan word nie omdat hulle onvolledig is,” het Spurgeon Wilson, raadgewer by die sentrum vir studentewerwing en loopbaanadvies gesê.
“Voornemende studente word versoek om hul aansoeke eerder vroeër as later in te dien, om hulself genoeg tyd te gun om die aansoek – wat insluit die oplaai van die noodsaaklike dokumente en die aanbring van nodige veranderinge – te voltooi.”
Aansoekers kan ook vir finansiële hulp aansoek doen. Die sperdatum is Donderdag 31 Augustus. Aansoeke kan aanlyn gedoen word by www.maties.com. Skakel 021 808 9111 vir inligting of e-pos na info@sun.ac.za. Gesels ook aanlyn by die “Let’s Talk”-opsie.

