Tristan Leyds in aksie vir UWK in die Varsityskild. Foto: Actionpix/Frans Lombard


Tristan Leyds, ’n voormalige UWK- en Stormers-rugbyspeler, het ná ’n ernstige besering nooit gedink hy sal weer die kans kry om sy staal op die rugbyveld vertoon nie, maar sedert dié Strand-boorling by die Blitsbokke aangesluit het, is hy geoormerk om binnekort sy buiging vir die Suid-Afrikaanse 7’s-span te maak.

“Die ondervinding wat ek die afgelope ruk by die Blitsbokke opgedoen het, is onbeskryflik. Ek het by die oefengroep aangesluit kort nadat ek van ’n ernstige besering herstel het en ek was bekommerd dat ek nie die pyp sou kon rook nie. Dinge het ná ’n paar weke se intensiewe afrigting verander en ek het die harde werk begin geniet. Die afrigting by die sewes is gewis meer intens en ek het besef wat die verskil tussen ‘7s-moeg’ en ‘15s-moeg is,” sê hy.

Tristan is die jonger broer van Dillyn Leyds, tans by La Rochelle in Frankryk, wat self groot hoogtes in rugby bereik het. Dillyn was deel van die SA o.20-span wat in 2012 die Junior Wêreldbeker op Nuweland gewen het.

Dillyn Leyds in aksie vir La Rochelle in Frankryk.

Sewesrugby is nie ’n nuutjie vir Tristan nie, want hy het in 2019 danksy Clement Trout (afrigter) van UWK die sewesspan gehaal.

“Ek het in 2018 by die UWK in die 15’s gespeel en die volgende jaar die Varsity-7’s gehaal. Ek het al voorheen met die Blitsbokke te doen gekry. Ek het as voorbereiding vir die Varsity-7’s- en die USSA-7’s-toernooie teen die Blitsbokke gespeel toe spelers soos Branco du Preez en Cecil Africa nog lid van die Blitsbokke was.

“Die omgewing by die Blitsbokke is anders as waaraan ek by die UWK gewoond was, waar ek in 2021 laas gespeel het. Dit sal wonderlik wees as ek wel die span haal wat die naweek van 1 tot 3 Desember in Doebai uitdraf. Ek weet dit sal die kersie op die koek wees nadat ek vir langer as ’n jaar min of geen rugby gespeel het nie, maar ek weet dit sal vir my familie meer beteken as nog ’n lid van die gesin Suid-Afrika internasionaal verteenwoordig,” sê hy.

Sy pa, Gershwin, is baie gou om te sê hoewel hy in die Apartheidsjare flank en slot vir Strand-liga gespeel het, het albei seuns se sportgene van hul ma, Erica, se kant af kom.

“My skoonpa, Hubert Baarie Stewart, was op sy dae ’n kranige losskakel vir Somerset-rugbyraad. Haar hele familie was sterk agterspelers en al die Stewarts was goeie sportmanne en -vroue. Erica was in haar matriekjaar kaptein van die WP-netbalspan en in dieselfde jaar ook die kaptein van die Suid-Afrikaanse senior skole-vereniging (SASSA) as ’n senter. Ons as ouers was baie trots dat die sewesafrigter Tristan geoormerk het, maar ons het geweet hy sal hard moet werk om die ander sewesspelers te wys dat hy ook soos hulle op hul vlak kan meeding. Hy het geweet dat daar ’n reuseverskil tussen 15’s en 7’s is en as hy skouer aan die wiel sit en tot sy volle potensiaal speel, het ons geen twyfel dat hy ook in sewes goed sal doen nie,” se Gershwin.

Die Leyds-gesin is (agter, van links): Gershwin en Tristan; (voor) Erica en Dillyn.

Met Dillyn net ’n oproep ver, het Tristan en hy gereeld gesprekke oor rugby, en hoewel Dillyn altyd sê hy weet nie alles nie, stem Tristan nie saam nie.

“Ek bewonder my broer vir alles wat hy op sy eie vermag het en ons albei hou nie daarvan dat ons met mekaar vergelyk word nie. Dillyn was lid van die Junior Bokke, het vir die Western Force in Australië in Superrugby uitgedraf, onder Allister Coetzee vir die Stormers gespeel en in 2017 sy Springbokkleure verwerf voordat hy in 2020 by La Rochelle aangesluit het. Hy het juis nou weer by La Rochelle tot 2025 geteken,” sê Tristan.

Volgens Tristan hou hy en Dillyn mekaar verantwoorde­lik vir hul onderskeie wedstryde. Hulle ondersteun mekaar en hy was bly vir Tristan toe hy by die Blitsbokke se oefengroep ingesluit is.

“Sedert ek by die Blitsbokke is, leer ek elke dag meer; ek het nou ’n ander gevoel oor waar gapings op die veld is en hoe ek elke wedstryd benader. Ek is gelukkig om in 15’s én 7’s saam met spelers te speel wat ek net op televisie gesien het en wat my nou inspireer, maar my broer is die rugbyspeler wat my die meeste inspireer – veral hoe hy in sy rugbyloopbaan gegroei het. Ons ouers is baie ondersteunend en motiveer ons om ons doelwitte te bereik. Jy moet ook te alle tye nederig wees wanneer jy seges behaal en dankbaar wees vir die talente waarmee jy geseënd is. Voor elke wedstryd sal hulle ons ’n teksboodskap stuur of bel met die boodskap ‘maak seker jy doen jou beste en God sal die res doen’. Op my wenslysie is om nog te speel en om ook my rugbykennis tuis of oorsee te deel, maar om as die Leyds-duo uit te draf, sal die verwesenliking van my droom wees,” sê Tristan.

Gershwin noem dat La Rochelle Dillyn in 2015 al ’n kontrak aangebied het, maar hy wou eers in SA speel.

“Dillyn is ’n 15’s-speler en ek het nog nie agtergekom hy wil 7’s speel nie.”

Albei was op skool by Bishops en het in ander sportsoorte uitgeblink. Albei was naellopers en was ook in hul matriekjaar die Victor Ludorum in atletiek by die skool.

Dillyn het WP op laerskool in hekkies verteenwoordig en al twee het krieket gespeel.

Tristan het baie belofte as ’n snelbouler getoon en het in sy eerste wedstryd vir Bishops vyf paaltjies laat kantel.

“As ouers probeer ons om al hul wedstryde by te woon. Ons glo ook dat ’n goeie ondersteuningstelsel vir elke kind wat sport beoefen, belangrik is. Jy kan hoeveel talent hê, maar as jy nie ondersteun word nie, kan dit op niks uitloop. Toe Dillyn op laerskool vir Hendrik Louw teen Macassar Primêr gespeel het, het ’n seun van Macassar hom elke keer gelak en gekeer dat hy drieë kon druk – iets wat hy in ander wedstryde drie of vier keer gedoen het deur oor die doellyn te duik.

“Ek het gevoel hy het meer talent as Dillyn gehad, maar het niks weer van hom gehoor nie. Die feit dat hy nie ondersteun is nie, kan dalk die rede wees waarom hy van die rugbytoneel verdwyn het. Ouers moet leer om in hul kinders se vreugdes en teleurstellings te deel en leer om objektief te bly, dan sal hul kinders gefokus bly,” sê Gershwin.

Geshwin is tans die voorsitter van die Strand-rugbyklub, wat in 2024 in WP se Supeliga B gaan meeding, en hy hoop hulle gaan die Top-6 aan die einde van die ligaverpligtinge haal vir promosie na Superliga A in 2025.

Die Blitsbokke, wat van Vrydag 1 tot Sondag 3 Desember in Doebai gaan meeding, word hierdie week aangekondig voordat die span eerskomende naweek na die Verenigde Arabiese Emirate vertrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article