Twee mense het hul lewe kort ná Kersfees en vroeg in die nuwe jaar verloor toe hulle in die Strand verdrink het.
Die polisie soek steeds na die liggaam van ’n derde slagoffer, ’n man van Franschhoek, nadat hy verlede Woensdag (4 Januarie) deur vriende as vermis aangemeld is.
’n Bekende van die Strand, Clive (Ysters) Williams (68), was die afgelope feestyd die eerste slagoffer van ’n verdrinking.
Williams se verdrinking is voorafgegaan deur nog ’n voorval. Volgens verslae, wat nie amptelik bevestig is nie, het ’n 65-jarige man Woensdag 28 Desember ook in die see by die Strand verdrink. Besonderhede oor die voorval is onbekend, maar paramedici wat op die verdrinking reageer het, het die slagoffer op die toneel as ’n kode-blou-pasiënt verklaar.
Volgens Michael Markinova, die bestuurder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kleinmond, het hulle en die NSRI Gordonsbaai verlede Maandagoggend (2 Januarie) op die voorval wat Williams se lewe geëis het, reageer nadat inligting van Cape Nature en wetstoepassingsbeamptes verkry is oor ’n klein bootjie wat omgeslaan het. Luidens ’n verslag was Williams op die bootjie, wat by Maasbaai naby Hangklip omgeslaan het. ’n Insittende van die boot het daarin geslaag om aan wal te kom, maar Williams was weg.
Markinova het gesê verskeie reddingsbote van Kleinmond en Gordonsbaai is na die toneel ontbied en het die gebied gefynkam. ’n EMS-Skymed-reddingshelikopter was op bystand en die oorlewende is deur EMS se paramedici behandel.
Williams se liggaam is naby die kus gevind en aan wal gebring.. ’n Groep vriende van ’n 31-jarige man van Franschhoek het hom Woensdag (4 Januarie) as vermis in die see by die Strand aangemeld. Alan Meiklejohn, die stasiebevelvoerder van die NSRI in Gordonsbaai, het bevestig diensspanne is daarvan in kennis gestel dat iemand naby hul satellietreddingstasie vermis geraak het. Die man het glo in die water verdwyn nadat hy saam met twee van vyf vriende, wat vir die dag saam op die strand was, gaan swem het.
Verskeie reddingsdienste waaronder die NSRI, EMS, GB Med Rescue-ambulansdienste, Stad Kaapstad se menseredders en Strand se buurtwag, het op die voorval reageer. Die NSRI se reddingstuig, Zelda, asook EMS-Skymed se reddingshelikopter en ’n hommeltuig, is ingeroep om te help soek, maar geen teken van die man is gevind nie.
Seereddinsgdienste het ook op Nuwejaarsdag op verskeie byna-verdrinkings en ander noodgevalle by Strand reageer:
- ’n Twaalfjarige meisie is om 10:09 by Cape Sands uit die water gered.
- ’n Jong seun, wat weens ontwatering op die strand ineengestort het, is om 12:05 deur NSRI-reddingswerkers te hulp gesnel.
- Twee seuns – sewe en 10 – is medies behandel nadat hulle om 12:25 in ’n motorongeluk beseer is.
- Bystand is aan ’n jong vrou, wat met asemhaling gesukkel het, naby die Topaz-woonstelblok gebied.
- Twee slagoffers, wat om 15:24 voor Leona-hof in die stroom meegesleur is, is uit die water gered en na veiligheid gebring. ’n Vyftienjarige, wat later in ’n soortgelyke situasie beland het, is ook te hulp gesnel en in ’n ernstige toestand hospitaal toe geneem.


