Nog ’n verdagte is aangekeer nadat ’n 19-jarige man van Sercorpark verlede Maandag (23 Oktober) sy lewe verloor het toe hy in ’n vermeende bendeverwante skietvoorval in die kop geskiet is.

Die Strand-polisie het ’n dag ná die moord bevestig dat die tweede verdagte aangekeer is en hy ’n vuurwapen wat vermoedelik in die moord gebruik is vir die polisie in Grabouw uitgewys het.

Die voorval, wat omstreeks 10:30 in Jasminstraat plaasgevind het, het die gemeenskap en ’n drukgroep genaamd Strand Community Concern Group so ontstel dat hulle daardie Maandag na die polisiekantoor gestap het om hul ontevredenheid uit te spreek oor die styging van misdaad in verskeie gebiede in die Strand (“Wilde weste heers in Strand,” DistriksPos & Helderberg Gazette, 25 Oktober).

Die Strand-polisie het bevestig twee manlike verdagtes, 32 en 27, is weens moord in hegtenis geneem en word aangehou.

Volgens die die ma van die slagoffer, wat glo in die pad in ’n poel van sy eie bloed aangetref is, het ’n verdagte op sonder enige waarskuwing op haar seun losgebrand en skote afgevuur.

Sebastian Cloete van die Strand Community Concern Group bevestig gebiede soos Sercorpark en ander in Strand is sedert die noodlottige skietvoorval tjoepstil.

“Die polisie is weer sigbaar in ons omgewing en dit kan ook dalk wees waarom dit weer stil geraak het,” verduidelik hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article